Nicole Kersfees by die huis

Nicole Panos in die rehabilitasiesentrum. (Foto: Verskaf)

Nicole Panos (25) sal hierdie Kersfees tuis saam met geliefdes kan deurbring.

Die jong ma, wat twee maande gelede deur ’n kameelperd by ’n private natuurreservaat in die omgewing van Hluhluwe in KwaZulu-Natal aangeval is, word na verwagting Donderdag uiteindelik uit die rehabilitasiesentrum ontslaan.

Daar is aanvanklik vermoed dat sy tot Februarie 2023 by die rehabilitasiesentrum sou moes aanbly. Haar familie, dokters, fisioterapeut en sielkundige het egter sedertdien planne beraam en die nodige toerusting bekom sodat Panos tuis kan aansterk.

“Nicole het nog baie werk om te doen en sal steeds daagliks [as buitepasiënt] moet ingaan vir rehabilitasie, maar sy kan darem gaan slaap en wakker word met [haar seun] Kayden en [verloofde] Jason aan haar sy,” sê haar familie.

Panos en haar familie sal Kersfees by vriende se huis deurbring voordat hulle in Januarie in ’n huurhuis sal intrek. Die jong ma en haar familie se lewe is omvergewerp sedert sy in Oktober vanjaar haar 16 maande oue dogtertjie, Kaia, aan die dood moes afstaan en self in ’n kritieke toestand in ’n hospitaal in Uhmhlanga opgeneem is.

Panos se familie moes sedert die aanval tien keer van tuiste verskuif sodat hulle naby aan die hospitaal kon wees.

Volgens die familie het die rehabilitasie onlangs vir Panos ál moeiliker geword aangesien sy nie gemotiveerd is nie. “Sy wil eerder tuis wees om na Kayden om te sien.”

Maroela Media het vroeër berig Nicole en haar kinders het die betrokke dag op ’n voetpad tussen hul en haar ouers se huis, wat op die wildreservaat geleë is, gestap toe die voorval plaasgevind het.

Klein Kaia het ná die aanval aan haar beserings beswyk.

Nicole het ernstige rugbeserings opgedoen tydens die aanval. Sy het ook frakture aan haar kakebeen, ribbes en een van haar arms opgedoen met skade aan haar lewer en een van haar longe. Sy moes ook bloedoortappings kry.

Kayden het verskeie skedelbreuke tydens die voorval opgedoen, maar sedertdien ten volle herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.