Nkandla: ‘R10,6 m nie genoeg nie’

Pres. Jacob Zuma se woning in Nkandla, KwaZulu-Natal

Pres. Jacob Zuma se woning in Nkandla, KwaZulu-Natal

Die R10,6 miljoen wat volgens pres. Jacob Zuma in ag geneem moet word rakende ʼn skikking in die Nkandla-saak is “verouderd en neem nie die luukshede wat by sy woning aangebring is in ag nie”.

Die konsepbevel wat Zuma by die konstitusionele hof ingedien het, maak spesifiek melding van ʼn verslag wat in 2011 deur die departement van openbare werke saamgestel is. Zuma het versoek dat die dokument as beginpunt gebruik word deur beamptes wat deur die ouditeur-generaal en nasionale tesourie genomineer word om uit te werk hoeveel Zuma moet terugbetaal.

Volgens die dokument is dit destyds aanvaar dat Zuma R10,6 miljoen sal betaal vir onder meer landskapwerk en ander boukoste. Dit neem egter nie die ander vyf items in ag waarna Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, verwys het nie. Madonsela het in haar verslag oor Nkandla bevind dat die swembad, veekraal, hoenderhokke, amfiteater en besoekersentrum nie veiligheidsverwante opgraderings was nie en dat Zuma ’n gedeelte van die koste daarvan moet betaal.

Die DA, wat die grondwethof versoek om te beslis dat Zuma nie die wet nakom nie deur nie aan Madonsela se voorskrifte gehoor te gee nie, meen Zuma se “aanbod” is “desperaat” en die koste “misleidend”.

“Die bouwerk het hierna voortgegaan en dit neem ook nie inflasiedruk in ag nie,” het James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, gesê. Selfe het gesê sy party het ʼn probleem met talle aspekte van Zuma se skikkingsaanbod. Volgens die DA kan die ouditeur-generaal nie regstellende stappe doen soos die Openbare Beskermer nie.

“Die toedeling is baie toegeeflik teenoor pres. Zuma en sal beteken dat die belastingbetaler R203 miljoen betaal vir die werk aan sy huis,” het die DA gesê met verwysing na die departement van openbare werke se verslag.

Selfe meen Zuma se skikkingsvoorstel is gebrekkig aangesien hy die grondwethof versoek om ʼn bevel te maak terwyl hy terselfdertyd aanvoer dat die hof nie die toepaslike forum is om die aansoeke van die DA en EFF aan te hoor nie.

Zuma het dit erken in sy brief aan die griffier van die hof, maar gevra dat die hof sy skikkingsvoorstel aanvaar aangesien dit in nasionale belang is om die Nkandla-saak af te handel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Johann Marx ·

As jy R3 miljoen per jaar “verdien” (of moet ek liewer sê ontvang) vir ‘n periode van 8 jaar, het jy maar R24 miljoen (as jy NIKS daarvan gebruik nie). As die vyf aanbouings waarna verwys word gewaardeer word op meer as R24 miljoen, HOE gaan jakob die geldjies terug betaal? Want dit lyk nie vir my of hy enige ander bates of talente het om sulke geld te genereer nie? As die hof beveel dat hy soveel moet terug betaal, en hy doen nie, lê hulle dan beslag op sy eiendom? Hy moes onmiddelik, toe hierdie hele fiasko op die lappe gekom het, die geld by die gupta’s geleen het, en betaal het….want dan het hy net die gupta’s geskuld. Nou skuld hy die hele land…..en ons gaan dit nie afskryf nie.

Loeis ·

Hy het ander belange, en sou nie die voorstel gemaak het as hy dit nie kon betaal nie, tensy hierdie ‘n vertragingstaktiek is om die verkiesing agter die rug te kry, natuurlik. Dit sal wel snaaks wees as die hof beveel dat daar op Nkandla beslag gelê moet word. Een probleem daarmee is natuurlik dat Nkandla nie op Jacob se naam is nie.

GES ·

Die arrogansie darem ….. Jy steel bv ‘n R100 000 gee R10 000 terug en siedaar die saak is geskik. Nou moet almal tevrede wees.

F ·

Die nasionale belang wat Zuma noem is nie die nasionale belang soos ek dit ken nie. Dit is eerder sy eie belang! Die kwantum is nie so moeilik om te bepaal nie, maar word in die Inkomstebelastingwet vervat. Betaal die belasting op die byvoordeel wat hy ontvang het van sy werkgewer. Dit is hoe ons gewone burgers belas word, hoekom moet hy anders behandel word?

alida ·

Hou tog op karring. Ons weet almal dat hy nie een enkele sent gaan terugbetaal nie.

Martin ·

Alida, ek wil met jou verskil. Ek het so gevoel hierdie is die begin van sy probleme. Soos ons almal weet is daar nog ander sake wat ook vir hom wag. Gee net kans totdat hy uit sy stoel uitkom, dan gaan hy en ‘n paar van sy maatjies baie sukkel. Onder andere meneer Sjeik.

pat aldrich ·

Die gelde wat transnet of waar ook al so mildelik uitgedeel het aan vriende van zuma is dit nie dalk maar hoe die terugbetaling gaan gebeur nie. Vat maar net weer belasting geld om nkandla te betaal. Is maar n klip in die bos want blykbaar gaan sy vriende help terugbetaal. Miljoene. Nee ek ruik n rot

alida ·

Martin dis reg. Wat hy se en belowe en wat hy eintlik doen is twee dinge. Hy hou ons monde maar net toe. As hy iets sou terugbetaal kan ek jou verseker gaan dit nie uit sy persoonlike rekening wees nie maar iewers ander gesteel. Sodra die stof gaan le het steel hy dit terug. Glo my

Rynhardt ·

Daar was met verskillende verslae gepeuter oor die kostes rakende Nskandla! Die bedrag van R246 vir Nkandla is misleidend.Daai paleis, glo ek het by n R300miljoen gekos!Nou moet die terugbetalingR10,6miljoen wees? Daar was openlik teen belastingbetalers n kriminele daad gepleeg wat hy en sy kabinet wou verbloem! Sy paleis moet vir R300miljoen opgeveil word.Dit is hoe jydie kwessie hanteer! Verder moet hy en kabinet strafregterlik vervolg word.Die hele Nskandka-sirkus word egter te sag gehanteer!

Grassie ·

Rynhardt – daardie stat van Zoempas is nie naasteby R300 miljoen werd nie. Let op die swak uitleg, swak beplanning, swak bouwerk, grasdakke wat tekens van verwering toon en staan en bid vir ‘n weerligstraal, swak instandhouding van die hele opset en nog veel meer. Ek twyfel of dit R30 miljoen op ‘n veiling sal haal. Die ou se lewenskoste is ook baie hoog, dink maar wat dit kos om ‘n klomp vrouens aan te hou en ook omtrent 20 kinders (miskien 30 as die buite-egtelikes bygetel word) te versorg. Hy sal moet staatmaak op skenkers om enigiets terug te betaal maar hulle sal ook nie meer baie vrygewig wees nie want hulle weet dat hulle nie meer vir baie lank enige voordeel uit hom sal kan trek nie.
Op die ou end gaan die belastingbetalers die pyne van Nkandla moet dra – dit afskryf as slegte skuld.

Jef ·

Jacob ek se jou wat, ek koop nie jou huis nie, nee ek vat hom want ons het dit alles vir jou betaal.
Maar ek wil alles verander dit beteken jy moet alles betaal en ja ek dink aan n reservaat vir bedreigde diere in SA en ek gee jou iets om te doen.
jy moet vir ons die terein skoonmaak en die diere kos gee, nee jy kry nie salaris nie want jy het genoeg want het jy vergeet jy moet alles betaal.
Dan doen jy in elk geval iets waar jy miskien goed in is.

Rynhardt ·

Grassie daar is 50% swart doller-miljoeners in Gauteng wat die prez se paleis kan koop!

Tammy ·

Beslaglegging is my voorstel. Hy kan nie die geld terug gee nie al doen hy wat. Gaan die geld dalk uit n ander staatskas kom? Gaan die fokus net verskuif word, maar die skuld is ALLES nogsteeds daar? Hierdie is n foefie.

Johann ·

Sou hy moontlik iets terugbetaal, sal hy wel van iewers hulp kry om die beloofde bedrag te vereffen. Ek twyfel of hy self sulke geld geredelik beskikbaar het. Dit is in elk geval net ‘n verkiesingsfoefie. Sy eie mense verloor geloofwaardigheid in hom en hy en sy party is desperaat om stemme te wen en te behou. Net tyd sal leer wat vorentoe gaan gebeur.

Clinton ·

Hierdie saak gaan weer sloer tot en met sy dood. Dan gaan niemand mos verantwoording dra daarvoor nie

Oom Boer ·

Dit lyk my of daar ‘n syfer probleem met ‘n nul is dalk ZAR100,6 miljoen. Nr 1 is Pa van heelwat beleggingtjies, dalk nie in eie naam nie weens beskermings faktore en belasting doeleindes. Met tyd sal baie dingetjies nog ontrafel word soos die pap dik raak. Ontkenning in alles en ontrekkings simptome wat alles altyd na iemand anders verwys word vir blaam is ‘n ingebore instink. Die saak gaan nog lank draai en kommissies van ondersoeke op die been plaas vir werkskeppings doeleindes om verder belasting betalers gelde te gebruik en dan kom die Sheik siekte in by Nr 1 wat hof prossesse gaan vertraag en uitrek tot die saak uitgegooi word weens siekte toestand, verlore dokumente, verlore getuienisse ens. Nkandla stad moet nog ontwikkel word en die nabye infrastruktuur benodig nog ‘n goeie inspuiting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.