Nóg ontwrigtende reën hiér verwag

(Argieffoto: pixabay)

Sonskyn na swaar reënval in die noordoostelike dele van die land gaan na verwagting van korte duur wees, met nog reënval wat vir die naweek en vroeg volgende week voorspel word.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê in ’n verklaring die tropiese laedrukstelsel wat tans in die Mosambiekkanaal heers, sal na verwagting suidweswaarts oor die suide van Mosambiek beweeg, voordat dit verdere ontwrigtende reënval in die oostelike dele van Limpopo, Mpumalanga en die noordoostelike dele van KwaZulu-Natal sal veroorsaak.

Dit sal na verwagting van Vrydagaand af die hele naweek reën en eers na verwagting aan die einde van volgende week begin opklaar.

Die weerdiens wys egter daarop dat die laedrukstelsel nie met tropiese sikloon Eloise vergelyk moet word nie, aangesien dit aansienlik swakker is. Kommer bestaan egter dat die reën gebiede gaan raak waar dit reeds buitengewoon baie gereën het.

Luidens die verklaring kan kitsvloede en oorstromings moontlik voorkom op plekke waar die grond reeds oorversadig is.

“Verdere rotsstortings kan ook in heuwelagtige gebiede verwag word en paaie kan moontlik onbegaanbaar wees. Skade en oorstromings wat dorpe en nedersettings raak, kan ook daartoe lei dat sommige gemeenskappe dakloos gelaat word of moontlik na veiligheid geneem moet word.”

’n Sterk wind word boonop van Sondag af verwag.

Dié wind kan moontlik skade aan nedersettings en bome tot gevolg hê. Strukturele skade aan huise en paaie en kragdrade is dus moontlik, terwyl die sluiting van belangrike roetes ook verwag moet word, waarsku die weerdiens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oubobbejaan ·

Regtig, ontwrigtende reën, daai persoon mut dankie sê daars water in die kraan as dit oop gedraai word. Reën is ñ gawe en seën nie ontwrigtende nie.

Aikie ·

Oubojaan, jy is reg. Die ou mensdom is nooit tevrede met wat hulle kry nie. Omtrent die laaste vyf jaar was daar ‘n droogte toestand in die meeste gebiede in ons land. Toe het elkeen en sy maat gekla oor die droogte. Nou is daar te veel reën. Ons ou volkie sal net’ n rukkie met iets tevrede wees, dan begin hulle kla.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.