Nuwe planne om kese op Kaapse Skiereiland te bestuur

Die organisasies sal in die toekoms nouer saamwerk om ‘n volhoubare oplossing vir die bobbejane te vind. (Foto: Baboon Matters/Facebook)

Die Stad Kaapstad, Cape Nature, SANParke en die nasionale departement van bosbou, vissery en omgewingsake het hul opnuut verbind om ʼn volhoubare bestuursoplossing vir die bobbejaanbevolking op die Kaapse Skiereiland te vind.

Daar was die afgelope ruk toenemende wrywing tussen omgewingsaktiviste wat eis dat die bobbejane met rus gelaat word, en keelvol inwoners wat meen daar moet dringend werk van probleemdiere gemaak word.

Dr. Ernst Baard, uitvoerende direkteur van bewaringsbestuur by Cape Nature, het by navraag gesê die onderskeie owerhede het die afgelope week vergader en hul opnuut verbind om ʼn oplossing te vind. Die instellings sal in die toekoms dus saam verantwoordelikheid neem vir die bestuur van die diere.

“Daar is nie baie opsies nie, maar die feit bly staan dat ons ʼn oplossing nodig het – selfs al is ʼn gedeelte van die oplossing ongewild. Ons moet ʼn middeweg vind.”

Die Stad Kaapstad het vroeër aangedui dat die bestuur van die bobbejane die stad, en by implikasie belastingbetalers, ʼn reusebedrag geld uit die sak jaag en dat hy die koste daarvan nie langer alleen kan dra nie. Daar is dus met Cape Nature en SANParke, in besonder die bestuur van Tafelberg Nasionale Park, vergader om ʼn gesamentlike oplossing te vind.

Baard sê streng riglyne geld om die bobbejane te bestuur, asook hoe om konflik tussen mense en wildlewe te hanteer. Ingevolge die riglyne word ʼn beoordeling van die situasie gedoen, waarna ʼn besluit oor ʼn dier se toekoms geneem is. Die afgelope paar jaar was daar egter groeiende teenstand oor die ingrypingsprosesse wat gevolg is.

“Dit is ʼn sensitiewe kwessie. Die bobbejane moet beskerm word, maar mense het ook genoeg gehad van bobbejane wat kort-kort by hul huise inbreek, ʼn yskas omgooi of die plek plunder.

“Die bobbejane is daar en hulle is deel van die Skiereiland. Ons kan hulle nie wegwens of ʼn draad span om hulle uit te hou nie. Daar moet ʼn oplossing gevind word,” sê Baard.

In hierdie stadium is die suksesvolste manier om bobbejane te bestuur en te beheer om elektriese heinings in sleutelgebiede op te rig om die diere uit te hou. Dít, in kombinasie met veldwagte en die gebruik van byvoorbeeld geraas of verfbalgewere om bobbejane af te skrik, help om diere buite gebiede soos Tokai, Kommetjie en Scarborough te hou.

“Op die oomblik is dit die beste oplossing wat ons het.”

Bobbejane se getalle groei

Baard verduidelik dat die bobbejaanbevolking die afgelope tien jaar aanhou groei het omdat daar geen meer natuurlike roofdiere – soos luiperds – was om hul getalle natuurlik in bedwang te help hou nie.

Tans is die bobbejaanbevolking in die Kaapse Skiereiland ʼn geraamde 650, terwyl die drakrag van die omgewing tussen 500 en 580 bobbejane is.

Die bobbejane het boonop vinnig slim geword en geleer om by huise in te breek om maklik kos in die hande te kry. Dit het tot meer konflik tussen mens en dier gelei.

In ʼn tipiese situasie word ʼn jong mannetjie uit sy trop geskop om elders ʼn heenkome te gaan soek. Hierdie mannetjie leer vinnig dat hy maklik in die dorp kan kos kry en elke nou en dan neem hy ʼn paar wyfies en hul kleintjies saam. Daardie mannetjie en trop word die kwaaddoeners, verduidelik Baard.

Pad vorentoe

Die Stad Kaapstad was die afgelope paar jaar uit alle oorde onder skoot oor die bobbejane en min. Barbara Creecy het gevra dat SANParke en Cape Nature ook betrek word sodat daar opnuut gekyk kan word na riglyne en metodes oor hoe om die bobbejane te bestuur. Daar word ook gesteun op navorsing van die Universiteit van Kaapstad oor hoe om die konflik tussen mens en dier ten beste te bestuur.

Die organisasies het Maandag vergader, waarna daar Dinsdag ook met nie-regeringsorganisasies, bewaringsgroepe en gemeenskapsforums vergader is om hul insette te verkry.

“Die uitkoms van albei vergaderings was positief. Al drie organisasies het ingestem dat daar ʼn gesamentlike poging moet wees om ʼn volhoubare toekoms vir die bobbejane op die Skiereiland te vind.”

ʼn Taakspan van die organisasies sal binne die volgende twee weke weer vergader en die agenda vir ʼn volhoubare toekomstige bestuurspan sal uitgestippel word.

Creecy het ʼn beroep op almal betrokke gedoen om nou saam te werk en ʼn vennootskap te vorm wat deur wetenskap en navorsing gerig is, sodat die beste uitkoms gevind kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hennie ·

Laat weet gerus as julle ‘n oplossing gekry het daar onder vir die kees probleem. Ons sit met soortgelyke problem hier bo, veral as dit donker word. My goue ring…

Johan ·

Die vernietiging van probleemdiere is ‘n integrale deel van die bestuur van ‘n diere bevolking. Dis nie populêr nie, maar soms nodig.
Die mense wat skade lei as gevolg van die probleemdiere moet maar ook begin skadevergoedingseis teen die owerhede instel. Sodra die suksesvolle eise hul tol begin in terme van die finansiële implikasies op die instansie se begroting, sal die dringendheid om volhoubare oplossings te vind ook begin gebeur.

VaalDonkie ·

Gee daai oortollige covid-entstowwe vir die bobbejane en dan kyk ons of hulle getalle nie minder raak nie.

Andries ·

Gewoonlik lessenaarjoggies wat kla as die probleemdier vankant gemaak word, maar hul het nog nie onder die vernielsugtige dierasies deurgeloop nie.

VaalDonkie ·

Is gewoonlik so. Die tannies wat die hardste huil woon die verste weg van die probleem. Bobbejane is nie net lastig nie, hulle is gevaarlik.

Elméne ·

Kyk na die getalle (volgens hierdie berig) – alreeds oorbevolking. Wat dink hierdie omgewingsaktiviste ??? Hoe erg gaan dit oor jaar of vyf lyk met GEEN uitdunning nie? Volgende geldmors idee – steriliseer die goed – WAT DE HEL!@!

WynandM ·

Natuur bestuur en bewaring (wat uitskiet van nie bedreigde probleem spesies insluit op ‘n oordeelkundige manier) en gesinsbeplanning by mense is belangrike komponente van die aarde se globale omgewingsbestuur. Ongelukkig lyk my beide word swak bestuur in Suid Afrika. Bobbejane is nie bedreigde spesies nie en daar is baie in die Kaapse berge. Wens net die fanatiese pro-bobbejaan aanhangers besef die natuur is nie net mooi nie (ook ‘n wrede kant) en hou op om SAN Parke/dorpe ens te verhinder om bestuur uit te oefen – hoop regtig hul word deel van oplossing.

VaalDonkie ·

Indien een van julle self in die area bly waar die bobbejane so amok saai: Moenie ‘n volwasse bobbejaan skiet om die trop te verwilder nie. Dit gaan nie help nie. Skiet ‘n kleintjie. Met ‘n kettie as dit in ‘n beboude gebied is. Die trop is baie erger oor kleintjies as oor volwassenes en sal die gebied verlaat om die kroos te beskerm.

Ek het daai truuk in Botswana gehoor. Hulle doen dit so daar.

Eden ·

Hulle is maar soos sluipslapers. Raak gewoond daaraan mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.