Opheffing van aandklokreël verwelkom

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het die aankondiging verwelkom dat die aandklokreël voor Oujaarsaand opgehef word.

“Ek het al lankal gesê dié besluit is noodsaaklik as ons die balans wil regkry om lewens en poste te red. Die toerisme- en gasvryheidsbedryf kan van vandag af ten volle in werking tree.”

Winde sê dit voorkom ook dat polisie-hulpbronne weggelei word van misdaad-brandpunte om ʼn maatreël te probeer toepas wat nie nodig is nie.

“Dit is egter die Wes-Kaapse regering se mening dat die president ook die nasionale ramptoestand in sy geheel moet ophef. Dit is duidelik uit die vierde golf dat ons die kapasiteit het om die Covid-19-pandemie te bestuur sonder dié uiterste maatreël.”

Alhoewel die Wes-Kaap se getalle en positiwiteitskoers veel hoër was tydens die vierde golf, was daar ʼn afname in hospitaal-opnames. “Ons data wys ook dat entstowwe baie doeltreffend is om sterftes te voorkom.”

Die Wes-Kaapse regering het ook ʼn vyfpuntplan saamgestel wat die reaksie op Covid-19 in die land kan normaliseer:

  • Beëindig die nasionale ramptoestand sodat die ekonomie kan groei en poste geskep kan word.
  • Stel ʼn provinsiale en plaaslikeregeringsreaksie in werking deur ʼn gevestigde verkeersligwaarskuwingstelsel – gebaseer op vooropgestelde maatreëls van die gesondheidsplatform-kapasiteit. Dit sal provinsies in staat stel om te reageer volgens hul eie kapasiteit.
  • Gesondheidsorg-kapasiteit moet volhou word deur ʼn verhoogde begrotingsaanwysing aan provinsiale regerings.
  • Bemagtig mense deur ʼn voortsetting van gedragsveranderingsveldtogte wat hulle inlig oor nie-farmaseutiese veiligheidsmaatreëls.
  • Verhoog die getal inentings deur tydelike en satelliet-inentingstasies.

“Ons verwelkom die nuus dat die aandklokreël opgehef word, maar dit plaas ʼn groter verantwoordelikheid op inwoners om seker te maak dat traumagevalle oor die naweek voorkom word. Die getal traumagevalle oor naweke, veral teen die einde van die maand, bly uiters hoog en dit plaas ʼn groot druk op ons ongevalle-sale. Ons moet dus veilig en verantwoordelik fees vier.”

Manny de Freitas, die DA se skaduminister van toerisme, het ook die nuus verwelkom dat die aandklokreël opgehef word. “Dit beteken dat die toerisme-, gasvryheid-, restaurant- en vermaakbedryf die geleentheid kry om weer homself op te bou. Dit beteken dat honderdduisende werke gered kan word en dit sal ʼn positiewe impak op die ekonomie hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.