Oud-Bul maak nou verskil in Indië

Louis Boshoff maak ’n verskil in Suid-Afrika en Indië met sy afrigterswerk. Foto: Verskaf.

Voordat een skouerbesering te veel destyds sy belowende speelloopbaan kortgeknip het, het Louis Boshoff beslis onder die opwindendste jong rugbyspelers in Suid-Afrika getel.

Die Pretorianer het eerstespanrugby vir Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) gespeel en vir die Blou Bulle se o. 19- en o. 21-spanne op losskakel uitgedraf. Hy het ook skouers met internasionale sterre soos CJ Stander, Pat Lambie en Ruan Combrinck in die Springbokke se o. 20-groep geskuur.

Maar toe hy vir die soveelste keer in sy loopbaan sy skouer tydens ’n klubrugbywedstryd in Frankryk ontwrig, het hy besluit om eerder die dokter se raad te volg. Hy het sy rugbystewels weggebêre en die afrigtersfluitjie nadergetrek.

Deesdae rig hy onder meer laerskoolsterre by sy skool in Pretoria af en hy is ’n bekende gesig by Affies se sewesoefeninge en Harlequins se klubspanne. Hy vergesel ook gereeld die SA All Stars-sewesgroep op hul vele internasionale avonture.

Foto: Verskaf.

Daarbenewens is Boshoff ook een van die Suid-Afrikaners – Naas Botha, Jannie Brooks en Ludwig van Deventer inkluis – wat hard agter die skerms werk om Indië se ongelooflike rugbypotensiaal te ontgin.

Hy is sedert 2019 saam met Van Deventer aan die stuur van Indië se nasionale mans- en vrouesewesspanne.

“Ludwig is verantwoordelik vir die meeste van die afrigterswerk, terwyl ek dan ’n paar weke vóór ’n groot toernooi kom om met die finale afrondingswerk te help,” het Boshoff gesê.

Volgens die Suid-Afrikaner is onvoldoende blootstelling een van die grootste uitdagings wat Indië se sewesrugbyspanne in die gesig staar.

Hoewel hulle slegs aan die Asië-beker deelneem, is Boshoff aangenaam verras met hul rugbytalent.

“As Indiese rugby net ’n fraksie van die blootstelling kan kry wat krieket in die land geniet, kan hulle beslis een van die beste seweslande word. Nie net in Asië nie, maar ook in die wêreld. Die spelers is gedissiplineerd, hulle oefen hard en hulle kan vinnig taktiek snap of ’n nuwe beweging bemeester.”

Hy vertel dat een van sy hoogtepunte van die span die Asië-beker van 2019 was.

“Indië het in die vorige toernooi nie te waffers gevaar nie en niemand het hulle daardie jaar ook veel van ’n kans gegee nie. Maar die mans het met die Plaat-louere weggestap, terwyl die vroue die silwermedalje ingeoes het. Sommige van die spelers kom uit haglike omstandighede en die verskil wat rugby in hul lewens maak is verstommend.”

Foto: Verskaf.

Hoewel hy sy speeldae mis, geniet hy die unieke uitdagings en verantwoordelikhede wat met afrigterswerk gepaard gaan.

“As ’n speler is jy baie meer in beheer van dinge; jy kan met die bal in die hand ’n verskil op die veld maak. As afrigter kan jy wel aan die spelers se vaardighede skaaf en raad langs die veld gee, maar jy het nie meer soveel beheer nie. Tog is dit vir my baie lekker. Jy kan ’n verskil in seuns en grootmense se lewens maak en dit is ’n voorreg om ’n pad met hulle te stap.”

Natuurlik brand die ambisievuur helder in hom.

“Dit is een van my doelwitte om eendag ’n internasionale sewesspan by die Olimpiese Spele of Statebondspele af te rig. Ja, ek het groot drome, maar ek werk kliphard om hulle waar te maak.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.