Plaaslike slot rank in Nederlanders se lynstaan

Christopher van Leeuwen (vyfde van links) speel internasionale rugby vir Nederland. Foto: Verskaf.

Christopher van Leeuwen het al baie verskillende rugbytruie oor sy kop getrek: Daar was onder meer die groen van Hoërskool Middelburg se eersterugbyspan, die pienk van die Pumas se Cravenweek-vyftiental, sowel as die swart en groen van RC Suresnes in Frankryk.

Deesdae hang die oranje trui van Nederland se nasionale span ook in sy kas.

Die jong slot kwalifiseer om vir die Hollanders te speel omdat sy oupa daarvandaan kom; tans is hy die enigste Suid-Afrikaans gebore speler in die klompedraers se nasionale rugbygroep.

Van Leeuwen vertel dat hy reeds vier keer vir die manne in oranje uitgedraf het.

Volgens Wêreldrugby is Nederland 26ste op die amptelike internasionale ranglys. Hulle beklee dus ’n hoër plek as Duitsland, Zimbabwe en Kenia.

Van Leeuwen het al vier wedstryde vir Nederland gespeel. Foto: Verskaf.

“Ons speel in die Sesnasies se B-kompetisie teen lande soos Georgië, Rusland en Roemenië. Hoewel ek my eersterangse rugby in Frankryk speel, weet ek dat rugby ’n vinnig groeiende sport in Nederland is. Daar is baie belowende spelers in die nasionale span,” het Van Leeuwen in ’n onderhoud met Maroela Media gesê.

Weens sy RC Suresnes-verpligtinge is hy egter nie vir elke Nederlandse kragmeting en oefenkamp beskikbaar nie.

“Franse rugbybase is nie altyd bereid om ’n speler vir twee maande op ’n slag vry te stel om vir een van die sogenaamde ‘kleiner rugbylande’ te speel nie. Dit is nogtans my doelwit om soveel as moontlik wedstryde vir Nederland te speel.”

’n Vinnige soektog op die internet wys dat Van Leeuwen amper 2 m in sy sokkies staan. Voeg daarby ’n flinke rugbybrein en jy sit met ’n baie waardevolle voorspeler.

Maar verstaan hy dan al die lynstaan-instruksies?

“Ek moes natuurlik eerstens geleer het om Frans te praat, maar Nederlands is beslis volgende op my lysie. Ek verstaan egter die taal reeds baie goed.”

Hy speel sy klubrugby in Frankryk. Foto: Verskaf.

Volgens Van Leeuwen verlang hy na sy familie en vriende in Suid-Afrika, maar hy is dankbaar vir die geleenthede wat hy in Europa gekry het.

Hy wil onder meer sy Franse klubspan help om vir ’n hoër liga te kwalifiseer, terwyl hy vir die Nederlanders ook ’n hupstoot op die internasionale verhoog sal wil gee.

“Nederland lê my baie na aan die hart en ek sal graag saam aan die land se unieke rugbystorie wil skryf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Speel rugby, vee strate, wat ook al: ek sal enigiets doen om in ‘n land te bly SONDER:
Beurtkrag
Swak vuil staatshospitale
Swak onderwys waar leerders onderwysers amper mag aanrand
Swak of geen munisipale dienslewering
Uiters hoë vlakke van misdaad
Diskriminasie teen my net omdat ek die “verkeerde” velkleur het
En en en. My lys is eintlik BAIE langer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.