Polisieman, passasier sterf toe trok deur ongelukstoneel ploeg

Foto bloot ter illustrasie van polisiebeamptes op ‘n ongelukstoneel. (Argieffoto: SA Polisie)

ʼn Vrystaatse polisiesersant wat Maandagaand ʼn ongelukstoneel naby Kroonstad help beveilig het, is dood toe ʼn vragmotor deur die toneel gebars het. ʼn Passasier wat in die aanvanklike ongeluk op die N1 tussen Kroonstad en Ventersburg betrokke was, het ook omgekom.

Sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, sê die polisie in Kroonstad is omstreeks 18:15 na die ongelukstoneel tussen die twee dorpe ontbied nadat ʼn Volvo-vragmotor en ʼn Ford Ranger-bakkie in ʼn botsing betrokke was.

Geen beserings is in daardie stadium aangemeld nie. Daar het wel wrakstukke op die padoppervlak agtergebly.

Polisiebeamptes het met hul aankoms die verkeer om dié wrakstukke herlei. Dit is tóé dat ʼn aankomende Isuzu-vragmotor deur die toneel geploeg het.

Die vragmotor het die 37-jarige polisiebeampte, asook ʼn passasier in die Ford Ranger-bakkie getref. Die polisiebeampte en die vrou is later met paramedici se aankoms op die toneel dood verklaar.

Twee aanklagte van strafbare manslag word ondersoek, maar geen inhegtenisnemings is nog gedoen nie.

Lt.genl. Baile Motswenyane, Vrystaatse polisiehoof, het intussen haar medelye met die slagoffers se geliefdes betuig.

“Wanneer polisiebeamptes hul huise verlaat om vir diens aan te meld, is daar altyd ʼn moontlikheid dat hulle nie weer hul geliefdes sal sien nie. Die werklikheid van wat gisteraand gebeur het, het ons diep getref,” sê Motswenyane.

“Ek wil my innige meegevoel met die geliefdes, vriende, familie en kollegas van die sersant, asook die onskuldige passasier betuig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

marius ·

Waarom is hy nie gearresteer nie . Moordenaars agter stuurwiele is vervuil in die hool en kom niks oor nie !

SjN ·

Kry eers die volledige detail, sigbaarheid en was die ongelukstoneel beveilig soos vereis, was daar waarskuwingstekens by die wrakstukke, was daar stop ry beheer toegepas voor die toneel , was dalk op n blinde hoogte, wie het dus fouteer?

Andries ·

Twee aanklagte van strafbare manslag word ondersoek, maar geen inhegtenisnemings is nog gedoen nie.Nou waar is daardie vragmotorbestuurder wat die ongeluk veroorsaak het dan?

Johannes ·

…en dit vir ‘n minimal fooi.

Sterkte aan die SAPD lid se familie en die ander slagoffer.

Lillian ·

Was ook een van my grootste bekommernisse toe ek daai uniform gedra het… Ongelukstoneel en padblokkades.

Nico ·

Kla ook die eienaar van die firma omdat ‘n onbevoegde drywer aan gestel is, was die nodige dokumente in plek. Nou is die oorledenes se families se geliefdes weg geneem.

piket ·

Ja meneer motsewanayane, so is dit met elke liewe mens in hierdie hool, niemand het n
goeie kans om sy huis en geliefdes weer te sien nie!

Skappie ·

So onnodig. Sterkte aan die 2 se gesinne. Mag onse Liewe Heer julle almal styf in Sy arms vashou, in hierdie moeilike tyd wat vir julle voorle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.