Polisiesersant oorleef skietaanval

Eiendom wat op die toneel gevind is (Foto: SAPD Mpumalanga)

ʼn 43-jarige polisiesersant het ternouernood aan die dood ontkom toe drie gewapende mans hom Vrydagoggend op pad werk toe aangeval het.

“Die polisiebeampte was op pad om vir sy oggendskof by Pienaar-polisiestasie aan te meld toe hy omstreeks 05:00 in Msogwaba langs ʼn spazawinkel oorval is,” het kol. Donald Mdhluli, woordvoerder van die polisie in Mpumalanga, gesê.

Sy aanvallers het toegeslaan toe hy in die pad geloop het, op pad na sy vervoer.

“Drie verdagtes het hom oorval en met ʼn vuurwapen gedreig. Hy het hulle gewaarsku om nie te skiet nie, maar een van die verdagtes het die vuurwapen oorgehaal en ʼn skoot gevuur. Dit het gelukkig nie die beampte getref nie. Die sersant het gereageer en op die vermeende skieter gevuur.”

Die drie verdagtes het op die vlug geslaan, maar toe beurtkrag intree, kon hy nie meer sien waarheen hulle weghardloop nie.

“Hy het rugsteun versoek en ʼn soektog is van stapel gestuur toe ander beamptes by die toneel opgedaag het. ʼn Manlike persoon is naby aan die toneel opgespoor met ʼn vuurwapen in sy een hand en ʼn mes in sy sak. Die skieter is nog nie geïdentifiseer nie.”

Die twee ander verdagtes is nog voortvlugtig.

Beamptes het ook beslag gelê op geraasdempers en werksoorpakke.

Mdhluli sê ʼn saak van poging tot moord word ondersoek en ʼn geregtelike doodsondersoek word gedoen. Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) stel ondersoek in na die skietery.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris, het die aanval op polisiebeamptes veroordeel en doen ʼn beroep op die gemeenskap om die polisie te help om die twee verdagtes aan te keer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.