Montana wou nie uitbrei oor die bewering nie en het gesê hy het ʼn ooreenkoms met die regering aangegaan dat die saak ondersoek sal word voordat hy enige verdere inligting bekend maak. “Ek kanselleer nie. Ek stel uit om die leierskap kans te gee om dit aan te spreek … en hopelik sal ons binnekort rigting kry oor hoe om vorentoe te beweeg,” het hy gesê.
“Ek het geen twyfel dat die besluit steeds onwettig is nie. Daar is baie histeries oproepe op die dag gemaak. Ek was aanvanklik voorbereid om alles met julle te bespreek, maar ongelukkig het ek gevolglik ingestem om niks te verklap nie, al weet ek ek is onregverdig behandel.” Prasa se raad het Donderdag in ’n verklaring aangekondig dat Montana afgedank is en nie sy kennistydperk sal voltooi nie.
Montana sou in Desember die maatskappy verlaat het. Nathi Khena, Prasa se hoofbedryfsbeampte, is intussen as waarnemende hoof aangestel.
Montana het Vrydag se mediakonferensie begin deur sy familie te bedank vir hulle ondersteuning. Hy het ook die regering en die regerende party bedank vir die geleentheid wat hy gehad het om die afgelope tien jaar aan die hoof van Prasa te gestaan het.
Montana het bygevoeg dat sy familie aan vernedering onderwerp is ná sy afdanking. “Die ondersteuning van my familie in die laaste twee dae het my begeerte om hierdie land te dien verskans. My voorneme is onwankelbaar,” het hy gesê.
“Die besluit was nie onverwags nie. Hulle het die besluit in my afwesigheid geneem hoewel die raad geweet het ek het ʼn siek oom en dat ek die vergadering verlaat het om aan persoonlike sake aandag te gee nadat my oom oorlede is.” Prasa se raad het ontken dat Montana afgedank is weens die onlangse skandaal oor Prasa se nuwe Afro 4000-lokomotiewe wat glo nie aan Suid-Afrikaanse standaarde voldoen nie.
Montana het vroeër vandeesweek gesê die lokomotiewe is perfek waarna hy joernaliste die geleentheid gegee het om in die treine te ry. Op ʼn vraag aan Montana oor of hy die arbeidshof sal nader oor sy afdanking, het hy sy kop geskud.
Prasa het intussen vroeër Vrydagoggend sy veel verwagte mediakonferensie gekanselleer. “Soos julle kan sien, ek is nie die voorsitter of die raad van Prasa nie, maar ek is hier om vir julle te sê die mediakonferensie is ná oorlegpleging met die minister gekanselleer aangesien die raad gevoel het dat die verklaring wat gister uitgereik is voldoende is,” het Sipho Sithole, Prasa se hoof- strategiese beampte, gesê.
Wat is die doel van die spooragentskap? Ek het nou skaars ‘n uur gelede oor die radio gehoor van twee treine wat in ‘n botsing betrokke was!! Dit lyk my ons spoorweë is nou in kompetisie met ons taxi’s!!!
Lucky, jy voel vere vir miljoene wat jy goedsmoeds sal mors op goed wat nie werk nie.
Al wat saak maak vir jou, is jou “massiewe paycheck” elke maand!
Hier gaan ons alweer. Eers ontken hy sy fout. Toe blameer hy alles en almal en nou begin hy eise stel. Ag hoe voorspelbaar as jy ‘n pateet is.