Radio-omroeper verdink van Bitcoin-slenter

Sebasa Mogale (Foto: Thobela FM)

Sebasa Mogale (52) en sy vrou Dorah Mogale (44) het Vrydag vlugtig in die Polokwane-landdroshof verskyn op aanklag van bedrog uit ʼn Bitcoin-slenter.

Hulle is elkeen vrygelaat op borgtog van R10 000 en sal op 20 Mei 2024 weer in die hof verskyn.

Sebasa, wat in 2020 by Thobela FM, een van die SAUK se radiostasies gewerk het, het ʼn slenter genaamd “Mining City” op radio geadverteer, sê kol. Malesela Ledwaba, woordvoerder van die polisie. “Hy het verduidelik hoe mense ryk kan word as hulle geld belê in die Mining City-pakkette. Die beleggers sou beloon word volgens die bedrag geld wat hulle belê.”

Hy het luisteraars aangemoedig om sy kantoor in Landdros Marestraat in Polokwane te besoek om ʼn sessie by te woon waar hy en twee ander mense ʼn seminaar sou aanbied.

“Luisteraars het die sessie bygewoon en brosjures is aan hulle uitgedeel waarop die verskillende pakkette uiteengesit is. Die persone het in die slenter geglo omdat Sebasa ʼn radio-omroeper is. Hulle het verwysingsnommers ontvang om hul geld in ʼn Standard Bank-rekening van die Altcoin-handelaar te betaal.”

Die pakkette het gestrek vanaf R6 500 tot R253 000 met beraamde uitbetalings.

Die slagoffers het hul geld inbetaal en is aangesê om na die kantoor terug te keer om ʼn e-posadres en intekenbesonderhede te skep sodat hulle toegang kon bekom tot die geld wat hulle belê het.

Die slagoffers is aangesê om ses maande lank te wag voor hulle enigiets onttrek sodat hulle ʼn groter wins kon sien.

“Die probleem het begin toe die slagoffers hul geld wou onttrek. Dit is toe dat hulle besef het die intekenbesonderhede werk nie. Toe hulle Sebasa gebel het om te hoor wat gebeur met hul belegging, het hy gesê Mining City het ineengestort weens die inflasiekoers.”

Dit het beteken dat die beleggers hul geld in die slenter verloor het.

Die slagoffers het na die kantoor in Landdros Marestraat teruggekeer, maar die kantoor was gesluit en Sebasa se telefoon het slegs ʼn stemboodskap gehad.

“Teen Mei 2022 is 10 dossiere teen die verdagtes by die polisie in Polokwane en Mokopane geregistreer. Nog meer sake sal na verwagting aanhangig gemaak word.”

Die polisie se ondersoek duur voort.

Kort ná Sebasa se skandaal op die lappe gekom het, het die SAUK hom van die lug verwyder en hom afgedank. Thobela FM het gesê hulle skors hom om vir hom die geleentheid te bied om sy persoonlike sake op te los. Sebasa het ook die rol van Dr. Hlongwane op Skeem Saam vertolk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.