Reddingsbeamptes loof gestrande stappers

(Foto’s verskaf deur Marc Bromhall en Chris Bailey)

Wildernis se soek-en-reddingspan (WSAR) is Vrydag ontbied om twee groepe stappers te help wat bo Kampsbaai in Kaapstad gestrand geraak het.

“Hulle het op Woody Buttress gestrand geraak. Die aanvanklike versoek om hulp is op ʼn gewilde Facebook-blad vir stappers geplaas. Lede van die groep het vinnig die korrekte noodnommer – 021 937 0300 – verskaf,” het WSAR in ʼn verklaring gesê.

Albei groepe het ʼn app vir stappers gebruik toe die terrein baie meer uitdagend geword het as die beskrywing op die app.

Die reddingskoördineerder vir die voorval, Hugo Vaughan, het die stappers geloof dat hulle gestop en hulp ontbied het.

“Ons moedig stappers altyd aan om ons vinnig te kontak, eerder as wat hulle verder vorder en dan dalk ʼn besering opdoen.”

Die twee groepe het verskillende roetes op die berg probeer en albei groepe het die besluit geneem om te stop en hulp te ontbied toe die terrein onbegaanbaar geraak het.

“Hulle het geklim tot by ʼn punt waar hulle gevoel het dit is onveilig om vorentoe te gaan of om te draai.”

Reddingswerkers het vinnig tot by die twee groepe gevorder. Toue is gebruik en die stappers is na veiligheid gelei.

David Nel, ʼn woordvoerder vir WSAR, het ook die stappers geloof dat hulle die SAFE-beginsel gebruik het. “Ons hoop ander sal ook in hul voorbeeld volg.”

Volgens hom staan SAFE vir Stop, Assess, Focus en Execute: hou stil; assesseer die omgewing, risiko’s en bepaal watter hulpbronne is beskikbaar; fokus, gee jouself kans om oor die probleem te dink en die volgende stap te beplan; en voer die plan uit.

“In die geval van die stappers was hul plan om hulp te ontbied en te wag om gered te word. Ons bedank elkeen wat ons help om die #IAmWildernessSafe-boodskap en die noodnommer 021 937 0300 te versprei.”

WSAR is ʼn netwerk van regeringsagentskappe en burgerlike vrywilligersorganisasies wat saamwerk in soek-en-reddingspogings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.