Regering skuld tehuis derduisende rande

Sunfield Fortuna (Foto: Verskaf)

Die Sunfield Fortuna-huis vir gestremdes moet raap en skraap om rekeninge te betaal omdat die departement van maatskaplike ontwikkeling in Mpumalanga weke laat is met die betaling van hul kwartaallikse toelae.

Sunfield Fortuna is ’n niewinsgewende organisasie wat sedert 1991 fasiliteite, persoonlike dienste en ’n woning aan sowat 75 verstandelik en liggaamlik gestremdes bied. Die huis is sowat 10 km van Balfour in Mpumalanga geleë.

Brenda Gouws, bestuurder van Sunfield Fortuna, sê die organisasie probeer kop bo water hou met slegs R2 849,75 in sy bankrekening. Van die rekeninge waarop hulle vir die inwoners moet kos koop, is reeds gesluit. “As dit nie vir ander hulpbronne was nie, sou ons nie eens ons kragrekening kon betaal nie.”

Die departement skuld die tehuis R228 000. “Hulle reageer nie eens op ons e-posse nie,” sê ’n mismoedige Gouws.

Brenda saam met een van die inwoners van die Sunfield Fortuna-huis (Foto: Verskaf)

Die departement betaal kwartaalliks ’n bedrag van R2 200 per inwoner per maand. Volgens Gouws is dié bedrag die afgelope tien jaar nog nie verhoog nie. Dit is glo ook nie die eerste keer dat die departement versuim om die toelae te betaal nie. “Verlede jaar het presies dieselfde [ding] gebeur en die departement het eers betaal nadat ons ʼn bohaai daaroor in die media opgeskop het,” sê Gouws.

“Die inwoners word deur die regering onder ons sorg geplaas. Ons lewer ’n diens aan die staat en al wat ons vra, is dat hulle ons toelae betaal, soos ooreengekom. Ons bedel nie geld. Ons wil net ons inwoners met die grootste liefde kan versorg,” sê Gouws.

Een van die versorgers saam met ‘n inwoner op die Valentynsdans (Foto: Verskaf)

Gouws sê die inwoners gaan met hul daaglikse aktiwiteite voort en is salig onbewus van die finansiële probleme. Die personeel het verlede week ’n Valentynsdans vir die inwoners gereël om hul week op te kikker. “Te danke aan die gemeenskap en weldoeners kan ons nog steeds die ekstra myl vir ons inwoners loop. Ons wil ten alle tye verhoed dat hierdie ons inwoners [negatief] raak. Hulle hoef nie te weet wat agter die skerms aangaan nie,” sê Gouws.

Gouws sê plaaslike boere verskaf aan hulle groente en ander vars produkte. “Ons het verlede week donasies ontvang om ons eie brood te bak.”

Maroela Media het ’n navraag aan die departement gerig, maar ná 24 uur steeds geen antwoord gekry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Dries ·

Maar daar geld is vir duur ANC herdenkingskoeke, makieties en “staats” begrafnisse.

lollapot ·

Laat my dink aan die 144 pasiënte in die Esidimeni tragedie, hulle het stadig gesterf van die honger. . .
Gee hierdie regering REGTIG om?

Plaaskind ·

Hulle gee vir niks en niemand behalwe hulself om nie, dis lankal nie meer geheim nie.

Niklaas ·

Ek glo die plan is om die geld later oor te betaal , sodra al die inhuldiging en herdenkings partytjies se uitstaande skuld betaal is. M.a.w. nie baie gou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.