Rehabilitasie van tot 18 dwelmslawe gebeur onder dié pastoor se dak

Om dwelmslawe weer op die reguit pad te kry, is ‘n roeping vir pastoor Jannie Jacobs en sy vrou Sanet van Mpumalanga. (Foto verskaf)

Dit is ʼn roeping.

Om dwelmslawe weer op die reguit pad te kry, het vir pastoor Jannie Jacobs (61) en sy vrou Sanet (49) van Stofberg, Mpumalanga, ʼn lewenstaak geword. Al beteken dit dat hulle nie eers gehuiwer het om ʼn halfweghuis op hul eie erf vir mense aan te bied wat in die kloue van dwelms beland het nie. Dit terwyl hulle twee kinders ook nog in ʼn stadium onder hul dak gewoon het.

Is dit nie as gevaarlik, onverantwoordelik en selfs roekeloos beskou nie? Moes hulle nie koes vir al die goedbedoelde waarskuwings oor wat hulle as gesin kon tref nie?

O ja, maar dit was ʼn saak van gebed, vertel Jannie wat al agt jaar lank daagliks met dwelmslawe werk.

Oor hoe dit gebeur het dat Jannie, nou van Bethel Ministries, so nou by die organisasie Oorwinnaars – ʼn organisasie vir gerehabiliteerde dwelmslawe – betrokke geraak het, vertel hy dat die lewe eers ʼn hele paar wilde draaie met hom geloop het.

‘n Doop vind sommer in die waterkrip plaas. (Foto verskaf)

“Ek was aanvanklik ʼn passer en draaier van beroep en het ʼn wêreldse bestaan gevoer. My lewe het om hengel gedraai. Ek het in ʼn stadium selfs op provinsiale vlak aan die sport deelgeneem.

“Ek is gedurende hierdie tydperk na ʼn huwelik van 22 jaar geskei waarna ek besluit het om op te hou drink. Vandaar af het my lewe drasties verander.

“Ek het gereeld kerk toe begin gaan en het 14 jaar gelede die Here aangeneem. Ek het ook enige geleentheid wat met Bybelstudie, gebed of selgroepe verband hou, bygewoon.”

Jannie erken openlik dat hy in ʼn stadium heeltemal te veel gedrink het en baie tyd met sy drinkebroers deurgebring het. Vandag drink hy nie ʼn druppel nie, rook ook nie, maar hengel nog op sosiale vlak.

Na sy bekering het hy besluit om in ʼn pastorale rigting by die Destination College in Witbank te gaan studeer. Daar het Jannie elf jaar gelede, vir Sanet, ʼn aptekersassistent wat 12 jaar jonger is as hy, ontmoet. Sy het met haar pastorale studies begin nadat syne voltooi is. Hulle is na ses maande getroud en het hul wittebrood gevier deur Israel saam met ʼn groep mense te besoek. Dit was vir hulle ʼn onvergeetlike ervaring.

Sy kinders uit sy eerste huwelik is nou al drie in hul dertigerjare, maar Sanet se twee kinders was nog minderjarig en het dus nog aanvanklik by hulle gewoon.

Jannie se reis met dwelmslawe het begin nadat hy sy werk verloor het en besluit het om 40 dae lank te vas deur net water te drink.

Lofprysing word ook gereeld gedoen. (Foto verskaf)

“Ek het 17 kilogram gewig verloor, maar dis nie ter sprake nie. Ek het my baie in die tydperk afgesonder en gebid. Ek was moeg vir gereedskap en wou nie meer aan ratkaste en voerbande werk nie.

“Dit is toe dat die Here my gewys het dat ek berading met die mense by Koppiestraat moet doen. Hulle het daar in Wendyhuise gewoon. Ek het elke dag soontoe gery en sonder betaling gewerk. Die mense is brandarm.”

Jannie het besluit om heeltyds in die bediening te gaan en het geglo dat die Here sou voorsien wanneer sy spaargeld, waarvan hulle geleef het, opraak.

Hy was ongeveer 18 maande lank doenig by Koppiestraat toe iemand eendag daar opdaag en vra of dwelmslawe nie dalk daar kan woon nie.

Die Oorwinnaars het ʼn gedeelte daar gehuur en het toe ses mans en vier vroue daar gehuisves.

“Die mense het ongeveer twee maande daar gewoon en daarna is hulle na rehabilitasiesentrums toe geneem.

“Dit het ons R3 000 per maand gekos om iemand na ʼn rehabilitasiesentrum te stuur. Ons kon dit eenvoudig nie bekostig nie en omdat ons rekening reeds R80 000 oortrokke was, het ons besluit om die mense self te rehabiliteer.”

‘n Woonstel is ook vir die rehabilitasie gebou. (Foto verskaf)

Jannie sê hy het by hierdie bediening betrokke geraak weens sy passie vir mense. Hulle was ʼn groep pastore, dominees, mense wat beradingskursusse voltooi het en bereidwilligers wat na vore gekom het om te help.

“Omdat ons soveel skuld gehad het, het die gedagte by my ontstaan om die mense na ons huis toe te neem en daar te laat woon totdat daar ʼn ander uitweg is.

“Toe ek dit een aand met Sanet bespreek, het sy geantwoord dat dié gedagte by haar ook opgekom het.

“Dit sou eers net vir ʼn week lank wees, toe vir maande en nou is dit al jare. So het ons in ʼn stadium 18 mense by ons huis in Middelburg gehuisves. Hulle het nie saam met ons in die groot huis gewoon nie, maar in ʼn aangeboude deel en woonstel wat aan die huis grens. Kerke, organisasies en individue het gehelp.

“Dit het nie gewerk om beide geslagte te huisves nie, want hulle het soms saam weg geloop of onheilige dinge aangevang.”

Hier is nie tyd om ledig te wees nie. Daar word groente aangeplant om die rehabilitasiesentrum te onderhoud.

Die meeste van hulle “loseerders” het van die strate af gekom.

Daar was vele oorwinnings maar ook ontnugterings, vertel hy. Dis moeilik om die “dwelmdraak” te verslaan. Jy kry ʼn outjie wat vandag daar is en môre weg is, en dit breek jou hart.”

Teen die tyd dat die dwelmslawe by die gesin gewoon het, het Jannie self die rehabilitasie en berading met die hulp van ʼn paar pastore gedoen.

Hulle het egter besef dat die getalle ingeperk moet word omdat persoonlike aandag in die slag bly as die groep te groot is.

“Dit het soms gebeur dat ʼn hele groep rehabiliteer en dan val hulle maar weer.”

Soms het ʼn hele groep weer gerehabiliteer en so gebly.

“Ons verskaf geen medikasie nie. Ons hou net by gebed. Alles werk op ʼn geestelike grondslag. Van die ouens het cold turkey gegaan.

“Ons het die manne aan die begin vir 21 dae ingeneem voordat genesing ingetree het. Later was dit net drie dae voordat hulle deur die ontrekking is.

“Party mense kom na ʼn maande terug. Selfs die kleinste uitdaging laat hulle struikel.

“Nadat ek en Sanet in ʼn stadium die Daniëlvas vir 21 dae gevolg het, het ek vir pastoor Len Gilchrist ontmoet. Ons het hom van ons bediening onder dwelmslawe vertel en dat ons graag op ʼn hoewe ver van die handelaars af met hulle wil woon. Hy het my aan sy broer, Robbie, voorgestel wat vir ons ʼn hoewe teen R10 huur per maand vir ʼn tydperk van tien jaar lank voorsien het. Hier kan ons agt mense in vier slaapkamers in die huis huisves terwyl ek en Sanet in die woonstel bly.”

Ons beleef soveel wonderwerke, verhoudings tussen die mans en hulle geliefdes herstel. Ons het selfs een keer ʼn dogtertjie gehad wat haar verjaardaggeld waarmee sy ʼn partytjie sou hou, gebruik het om vir haar pa te kom kuier. Dit is een van die mooi verhale.

Toe die kinders, wat intussen uit die huis is, nog by hulle gewoon het was daar ʼn veiligheidshek tussen die gesin en die mans se woonkwartiere.

Jannie het besluit om heeltyds in die bediening te gaan en het geglo dat die Here sou voorsien wanneer sy spaargeld, waarvan hulle geleef het, opraak. (Foto verskaf)

Die mans is nie ledig nie en bly aan die gang deur gras te sny, groente te plant, die skape, donkies, honde, katte, hoenders en ganse te versorg en die hokke skoon te hou. Hulle is ook as nutsmanne vir die boere in die omgewing beskikbaar, sou hulle dalk ʼn verwer of ambagsman benodig en hulle oor die nodige vaardighede beskik. Baie van hulle is opgeleide ambagsmanne.

“Die groot probleem is dat terwyl hulle nog by ons bly, is hulle 100%, maar wanneer hulle uitgaan moet hulle keuses maak. In die geval van heroïneverslawing is die rehabilitasiesyfer maar 3% wêreldwyd, maar ons het al ʼn suksessyfer van 20% gehad.

“As hulle weggaan hoor jy soms nie weer van hulle nie. Dan kry jy op ʼn dag ʼn oproep wat lui dat hulle gefaal het en weer dwelms misbruik. Party gaan nadat hulle weer dwelms gebruik het na ʼn ander rehabilitasiesentrum toe.”

En sal hulle diegene wat teruggeval het weer inneem?

“O ja, behalwe as hulle diefstal gepleeg het of dwelms na die huis toe bring.”

Sy hart juig egter oor die suksesse. Hy het met die meeste van die suksesgevalle nog kontak.

“Net gister het ʼn jongman en sy meisie kom kuier. Hy werk in die eiendomsmark en is al twee jaar lank skoon.

“In Desember het ʼn ander een sy nuwe motor vir ons kom wys en nog een het drie weke lank vir ons kom kuier omdat hy gekies het om sy vakansie by ons deur te bring. Ons raak lief vir hulle soos vir ons eie kinders. Een van ons eerste manne is al sewe jaar lank skoon. Hy stuur elke jaar vir ons ʼn boodskap dat hy nog ʼn skoon jaar vier.

“Drie van ons mense werk by verskeie rehabilitasiesentrums waar hulle ander help. Van hulle het ook intussen as ambagsmanne gekwalifiseer, waaronder ketelmakers en elektrisiëns. Ander het ʼn pastorale rigting ingeslaan.

En dít is wat dit alles vir hulle die moeite werd maak. As mense, vir wie daar min hoop is, se lewens verander en hulle oorwinnaars word.

“Daarom is Romeine 8:37 ons leuse. Ons is meer as oorwinnaars deur Christus wat ons die krag gee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.