RGB mag nie dokter toelatingseksamen weier

Dr. Igma Strauss. (Foto: Facebook)

Solidariteit het ʼn saak van minagting van die hof teen die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGB) gewen nadat dié liggaam toegang tot die toelatingseksamen aan een van Solidariteit se lede geweier het. Dr. Igme Strauss het in Roemenië by ʼn internasionaal geakkrediteerde universiteit afstudeer, maar is die toelatingseksamen deur Suid-Afrikaanse owerhede geweier.

Volgens Solidariteit is die kwessie van haar registrasie om die toelatingseksamen af te lê en as mediese dokter in Suid-Afrika te kwalifiseer al verlede jaar deur ʼn hofbevel opgelos, maar die bevel is deur die RGB geminag. Verdere regstappe het haar wel nou toegang tot die eksamen verseker.

Aldus dié hofbevel moes dr. Igme Strauss al in September 2021 haar toelatingseksamen kon aflê. Ten spyte hiervan het die RGB hulself aan minagting van die hof skuldig gemaak, en moes Solidariteit eers verdere regstappe doen voordat aan dié hofbevel gehoor gegee is.

“Ten tye van ʼn volslae mediese krisis wat aan ʼn tekort aan mediese dokters en personeel toegeskryf kan word, en wat die regering intussen met Kubaanse dokters probeer toestop, het die RGB dit goed gedink om ʼn gekwalifiseerde Suid-Afrikaner se drome en moontlike bydrae tot ons gesondheidsorgstelsel te kelder. Dit is ook ironies dat een van haar medestudente wel kon registreer en die eksamen kon skryf, maar nie sy nie,” sê Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit.

“Die kruks van die saak kom na vore as ʼn mens in ag neem dat die RGB ʼn internasionaal geakkrediteerde universiteit se kwalifikasie vir een student in twyfel trek, maar nie vir ʼn ander nie. Dit is nie net onregverdig nie, maar ongehoord dat die Suid-Afrikaanse mediese sektor nie plek het vir ʼn gekwalifiseerde Suid-Afrikaner nie. Die Johannesburgse hooggeregshof het reeds in Desember 2020 beslis dat studente soos Strauss toelatingseksamens mag skryf, maar die RGB blameer administratiewe tekorte en rompslomp vir sy nalatige optrede in dié verband,” verduidelik Van der Bijl.

Solidariteit voer verder aan dat daar in die lig van die huidige stand van sake in die mediese bedryf eenvoudig nie plek is vir sulke uitsluitende, meerderwaardige optrede is nie. Dit is weereens bewys dat argaïese burokrasie in die pad van vooruitgang staan, eerder as om dit in ʼn tyd van nood te help fasiliteer.

“Ons kort dokters in Suid-Afrika, ons kort Suid-Afrikaanse dokters, en hulle is hier – gereed om te praktiseer. Die regering se antwoord op ʼn mediese krisis bly egter om R250 miljoen aan buitelandse dokters te bestee eerder as om diegene wat ons reeds het te bemagtig om hul werk te doen. Hierdie beslissing stuur ʼn duidelike boodskap dat daar eenvoudig nie meer tyd of plek vir rompslomp in die mediese sektor is nie,” sluit Van der Bijl af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

AmY ·

Hoekom het sy in die eerste plek terug gekom na ‘n land waar sy nie erken sal word nie?

VaalDonkie ·

Ek glo as mens ‘n professionele raad se toelatingseksamen kan slaag, behoort dit GLAD NIE saak te maak hoe jy die kennis en vaardighede opgedoen het nie. As jy weet watter pilletjie werk vir watter hoesie, en jy kan ‘n kateter insit, ens. dan kan jy mos die werk doen. Selfs al het jy dit op Youtube geleer en op die skape on die plaas geoefen.

Andries ·

Maar hul laat onbevoede dokters van Kuba, wat nie eens behoorlik Engels magtig is nie, toe oom hier praktyke te begin.

Blikkies ·

Ek dink die RGB is bang sy slaag die eksamen so goed en laat die werklike stand van die ander studente se kennis die waarheid wys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.