SA’ners moet ‘veiliger leef’

(Foto: Fidelity Services Group)

Misdaadstatistieke wat verlede week deur die polisie bekendgemaak is, skets ʼn donker prentjie van Suid-Afrikaners se veiligheid, maar Fidelity ADT sê daar is ʼn hele paar dinge wat Suid-Afrikaners kan en moet doen om hul persoonlike veiligheid te verbeter.

Altesaam 6 424 moorde is tussen April en Junie vanjaar gepleeg, ʼn toename van 11,5% (644 moorde) in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Altesaam 9 516 verkragtingsake is aangemeld.

“Die regering moet beslis meer doen om hierdie onaanvaarbare statistieke af te bring, maar gewone Suid-Afrikaners kan ʼn groot verskil maak om hulself en mekaar veilig te hou,” sê Charnel Hattingh, Fidelity ADT se groepshoof van bemarking en kommunikasie.

“Die eerste stap is om ons manier van leef aan te pas en opnuut te fokus op wat om ons aangaan en meer paraat te wees.”

Sy sê misdadigers is gereeld op die uitkyk vir mense wat lyk of hul aandag afgetrek word.

“Die meeste misdade is opportunisties van aard en kan vermy word wanneer jy bewus is van die dinge rondom jou en mense se bewegings in jou onmiddellike omgewing. Moet ook nie daardie stemmetjie in jou binneste ignoreer indien jy voel iets is nie pluis nie.”

Die polisie raai mense ook aan om meer paraat te wees en gee die volgende wenke om persoonlike veiligheid op te skerp:

  • Moet nooit alleen op straat loop nie en wees op die uitkyk vir vreemde voertuie of mense.
  • Loop in deeglik verligte en besige strate, in ʼn groep indien moontlik.
  • Maak seker jou huis is veilig en sluit by ʼn gewapende reaksiespan aan. Maak ook seker jy ken al die noodnommers of dat dit iewers toeganklik uitgestal is.
  • Wanneer jy uitgaan, laat iemand altyd weet waarheen jy gaan en hoe lank jy gaan weg wees. Wees egter versigtig om jou doen en late op sosiale media aan te kondig, misdadigers het ook Facebook en Twitter.
  • Pasop vir strate wat so vol is dat jy nie behoorlik kan loop nie. Dit is waar grypdiewe floreer.
  • Pasop om waardevolle items in die openbaar uit te stal waar misdadigers dit kan sien.

“Indien iets slegs met jou gebeur, is daar baie organisasies of maatskappye wat jou te hulp kan snel. Maak seker jy maak kontak met die eenheid naaste aan jou. Dit kan enigiemand van jou naaste polisiestasie, private sekerheidsmaatskappy of gemeenskapspolisiëringsforum wees,” sê Hattingh.

“Iemand is gereed om jou by te staan, jy moet net die oproep maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.