Ses in Umlazi doodgeskiet

(Foto: Arrive Alive/Twitter)

Die polisie in KwaZulu-Natal het ʼn grootskaalse soektog van stapel gestuur na minstens vier gewapende mans wat vermoedelik betrokke was by ʼn massaskietvoorval.

Ses persone is dood en een persoon beseer ná die voorval Vrydagaand by Q Section, Umlazi, het kol, Robert Netshiunda, woordvoerder van die polisie, gesê.

Volgens die voorlopige berigte het die vier verdagtes net voor middernag by ʼn huis ingestorm en op twee mense in die huis geskiet. ʼn Derde persoon is in ʼn vertrek agter in die huis geskiet en ʼn vierde persoon is langs die buitetoilet geskiet. Hy het ook brandwonde opgedoen.

Dieselfde groep verdagtes het na bewering daarna na ʼn informele nedersetting beweeg en op drie mense in ʼn plakkershuis geskiet. Twee van die persone is op die toneel dood verklaar en die derde is na ʼn hospitaal geneem met skietwonde.

Een van die verdagtes, vermoedelik die leier van die groep, het sy identiteitdokument van die slagoffers geëis voor hy hulle geskiet het. Daar word vermoed dat hy deur die polisie gesoek word in verband met nog ʼn moord waartydens hy glo per ongeluk sy identiteitsdokument laat val het. Een van die oorledenes was vermoedelik in besit van sy identiteitsdokument.

Drie van die verdagtes is reeds geïdentifiseer en ʼn 72 uur-mobilisering van maksimum hulpbronne is geaktiveer om na die verdagtes te soek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.