Sesjarige sterf in kattebak

Klein Enrico Snyders (Foto: Facebook)

ʼn Ouerpaar van die Oos-Rand is platgeslaan nadat hul sesjarige seuntjie in die kattebak van hul geparkeerde Volkswagen Jetta op hul kleinhoewe in die omgewing van Springs dood gevind is.

Dit is nie duidelik hoe klein Enrico Snyders in die kattebak beland het nie. Dit lyk na ’n tragiese fratsongeluk, sê ʼn jarelange familievriendin wat as familiewoordvoerder optree.

Esme Strauss vertel dat Enrico Sondagmiddag (26 Maart) vir sy ma, Marie Snyders, gevra het of hy buite mag gaan speel. Snyders het ingestem.

Toe sy later na Enrico roep en hy nie antwoord nie, is sy ouers na buite om na hom te soek.

“Hulle kon hom nie vind nie. Hulle het in die kar geklim om te gaan kyk of hy nie dalk weggedwaal het nie. Dit is toe dat Enrico se mamma ʼn stuk materiaal by die kattebak sien uitsteek. Hulle het dadelik die kattebak oopgemaak en Enrico daarbinne gekry.”

Die ouerpaar het dadelik met hul jongste na ʼn hospitaal gejaag waar hy dood verklaar is.

“Ons weet nie hoe hy in die kattebak gekom het nie,” sê Strauss. “Ek sê vir almal nét Enrico en liewe Jesus weet wat gebeur het; want ons weet nie.”

Strauss sê Enrico se ouers is platgeslaan.

“Hulle neem dit maar dag vir dag.”

Enrico was ’n gr. 1-leerder aan Laerskool Jan van Riebeeck in Springs.

“Hy was net ʼn liefdevolle kind, vol lewe,” onthou Strauss.

“Hy het gespeel en musiek gemaak. Hy en sy sussie het TikTok-videos gemaak waarin hulle gedans het. Hy was net hierdie mooi seuntjie.”

Rene Roux, woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand, sê die organisasie se Terapiesentrum staan die gesin tans by.

ʼn Gedenkdiens sal Saterdag om 11:00 in die AGS Lofoordkerk in Springs vir klein Enrico gehou word. Volg die diens hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

KAIROS ·

solidariteit moet ook reel vir n privaat speurder om vuilspel te ondersoek

Susanna ·

Dit is baie tragies en kan enige ouer oorkom, veral vandag se karre wat jy net knoppies druk. Baie kinders klim in ou vrieskaste en baie ander snaakste plekke om te speel, wat tragiese gevolge het.

JP ·

Jammer vir die verlies… Ekt 2 kids(4en7), hulle het so ruk terug self in die boot geklim. Ekt later n geskree gehoor en dag dis die bure. Kort daarna besef my kids is nie naby. Toe ek uitbeweeg besef ek dis myne en hoor dit kom van die boot af. Ekt na die tyd gekyk en hul was onder n minuut in die boot. Hulle het hulle boeglam geskrik. So dankbaar hulle is veilig, kon soveel anders uitdraai.

MJLS ·

Ek het ‘n huil gesiggie bygevoeg en NIE die vraagtekens NIE. Kry nie my boodskap ge-edit nie.

Skappie ·

Hierdie was nou nie goeie nuus om te lees nie. Sterkte aan die ouers, vriende en die res van die gesin. Mag onse Liewe Jesus julle almal styf in Sy arams vashou en julle deur hierdie moeilike tyd deur dra.

popsa ·

So baie, baie jammer, Pappa en Mamma en al pragtige klein Enrico se geliefdes. Ons huil saam met julle. Julle is in ons gebede.

Eugene ·

Baie jammer om te hoor. Groot verlies vir die ouers. Sterkte.

Di ·

Sterkte aan die gesin. Tragies, maar hierdie tipe dinge gebeur so vinning. My niggie se seuntjie ook jare terug so oorlede. Hulle weet tot vandag toe nie hoe hy in die kattebak beland het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.