Só knou pandemie SA se rolprentbedryf – verslag

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Covid-19-pandemie het ongetwyfeld ʼn vernietigende uitwerking op die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf gehad. Die sektor is meer as R4 miljard kwyt weens die koronaviruspandemie en die gepaardgaande afsonderingsregulasies wat onder meer ʼn beperking op byeenkomste geplaas het.

Meer as 18 000 werkgeleenthede het boonop die afgelope 18 maande tot niet gegaan.

Die nasionale rolprent-en-video-stigting (NFVF) het in ’n verslag bevind dat die plaaslike rolprentbedryf se bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie die afgelope jaar met 59%, van R7,2 miljard gedurende die 2019/’20-boekjaar tot R2,9 miljard gedurende 2020/’21, gekrimp het.

Die verslag is in September uitgereik en staan bekend as die NFVF se derde ekonomiese impakstudie. Dit het ten doel om die rolprentbedryf se bydrae tot die land se BBP van April 2016 (2016/’17) tot Maart 2021 (2020/’21) te meet.

Dit het egter nou ook die pandemie se verwoestende impak op die bedryf (én ekonomie) en kommerwekkende neigings soos ’n afname in fliekgangers onthul.

Luidens die verslag het die algehele getal heeltydse werkgeleenthede wat deur die rolprentbedryf geskep en onderhou word vanaf 31 444 in 2019/’20 tot 12 775 in 2020/’21 gedaal.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die jaarlikse inkomste wat werknemers met behulp van die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf verdien, het ook skerp gedaal: van R218 miljoen in 2019/’20 tot R88 miljoen in 2020/’21.

“Ons doen hierdie navrosing om die totale ekonomiese bydrae van die rolprentbedryf werklik en tasbaar te maak en te illustreer watter kritieke rol die rolprentbedryf in die sosio-ekonomiese ontwikkeling van die land speel,” sê Botse Matlala, nakoming- en navorsingsbestuurder by die NFVF.

“Covid-19 het die bedryf die afgelope jaar geknou. Die fokus is nou om saam met die bedryf te werk om ons geliefde kunsvorm te herbou.”

Dié neigings ook opgemerk

Die verslag toon boonop ’n wesenlike afname in teaterbywoning – behalwe in China waar die gehore tussen 2009 en 2019 met meer as 860% gegroei het.

Daar word vermoed dat Covid-19 boonop die vertroue wat fliekgangers gehad het om na ʼn rolprentteater te gaan, verminder het.

Die afname in teaterbywoning het weer tot gevolg dat die tydperk wat flieks draai aansienlik verkort word. Rolprente was eens drie maande lank op die silwerdoek te sien hoewel die speelvlakke intussen na sowat 17 dae (maar drie naweke) verkort is.

Intussen het stromingsdienste ʼn groot uitwerking op die bedryf se tradisionele sakemodel aangesien sommige flieks dadelik aanlyn beskikbaar is sonder om eers op die silwerdoek te draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Saartjievandiebosveld ·

As ek die gebeure so kyk…is ons besig om terug in tyd te beweeg…nie lank nie… dan is ons 200jaar terug in tyd…en wie moet ons bedank…ek hoef dit nie uit te spel nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.