Spasie raak min by Ekurhuleni-begraafplase

Argieffoto

Argieffoto

Die Ekurhuleni-munisipaliteit het Woensdag gesê alternatiewe metodes moet dringend ondersoek word hoe mense begrawe kan word, aangesien die metro binnekort nie meer plek gaan hê vir nuwe grafte nie.

“Die stad Ekurhuleni verwelkom die debat oor alternatiewe metodes om persone te begrawe wat vandeesweek op sosialemedia-netwerke gevoer is,” het Themba Gadebe, woordvoerder vir die munisipaliteit, in ʼn verklaring gesê. “Die metro het na verwagting slegs 30 jaar kapasiteit tot sy beskikking oor.”

Gadebe het gesê die metro is bewus daarvan dat die saak sensitief is weens kulturele en godsdienstige gelowe en die gepaardgaande emosies. “Na alles is die realiteit egter dat ons in eenheid moet wees om hierdie uitdaging aan te pak.”

Ekurhuleni het reeds alternatiewe metodes vir die doeltreffende gebruik van grafspasie in werking gestel. Van die metodes behels onder andere om grond, wat vroeër deur persone bespreek is maar wat toe van ander metodes soos verassing gebruik gemaak het, aan die metro terug te verkoop, of om tot drie familielede in een graf te begrawe.

Gadebe het egter gesê dit is ondenkbaar dat ʼn persoon versoek sal word om ʼn geliefde se graf oop te maak sodat ʼn vreemdeling daar begrawe kan word. “Dit is nie ʼn ware beeld van die stad se alternatiewe grafstrategie nie,” het hy gesê.

Familielede en lyksbesorgers word oor die verskillende moontlikhede ingelig om familielede bo-op mekaar in dieselfde graf te begrawe. Die familie moet dan ʼn vorm invul en die munisipaliteit versoek om die betrokke graf oop te maak. Die begraafplaasbeampte sien die register na en ondersoek fisies die graf saam met ʼn familielid om seker te maak dit is wel die regte graf voordat die aansoek goedgekeur word. Dit is die familie se verantwoordelikheid om die grafsteen op eie onkoste te verwyder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.