Spietkops vas vir ontvoering, bedrog

Argieffoto

Twee lede van die Johannesburgse metropolisie (JMPD) is Vrydag in hegtenis geneem nadat hulle glo ure lank met ʼn motoris rondgery en geld geëis het vir sy vrylating.

Die JMPD se interne sake-eenheid het Vrydagaand ʼn klag van ʼn lid van die Suid-Afrikaanse polisiediens ontvang, wat beweer het twee metropolisielede het haar vriend ontvoer en met hom in Mayfair rondgery. Die motoris is in hegtenis geneem omdat hy glo met ʼn vervalste buitelandse rybewys bestuur het. Die verdagtes het glo R4 000 geëis vir sy vrylating.

“Die eenheid het die klag opgevolg en die betrokke lede se diensvoertuig nagespoor. Hulle kon toe vasstel dat die twee metropolisielede, albei mans, reeds die slagoffer vrygelaat het, nadat hulle R4 000 by hom geneem het,” lui ʼn verklaring deur die Stad Johannesburg.

“Die twee metropolisielede is ondervra en wetstoepassers kon vasstel dat hulle inderwaarheid die wet oortree het. Hul diensmotor is deursoek en R14 000 kontant, asook 300 buitelandse en twee Suid-Afrikaanse bestuurslisensies daarin gevind.”

Die klaer het die twee lede positief as sy ontvoerders geïdentifiseer en videomateriaal wys ook die interaksie tussen die lede en die slagoffer.

Die JMPD-lede is gevolglik in hegtenis geneem en word aangekla van ontvoering, bedrog en afpersing. Hulle word tans aangehou by die Johannesburg Sentraal-polisiestasie.

“ʼn Interne ondersoek sal ook na die verdagtes se optrede van stapel gestuur word, aangesien hulle waarskynlik die departement se goeie naam in oneer gebring het,” sê Johannesburg se burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid, David Tembe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.