Ster-Kinekor sorg vir skeut nostalgie met terugblik-flieks

Hugh Grant en Julia Roberts in ‘Notting Hill’. (Foto: Photo12 via AFP /7e Art Polygram Filmed Entertain)

“I’m just a girl, standing in front of a boy. Asking him to love her.”

Byna elke liefhebber van romantiese komedies sal hierdie woorde herken en kan dit binnekort opnuut op die grootskerm geniet.

Ster-Kinekor het onlangs aangekondig Notting Hill, die fliek waarin Julia Roberts dié bekende woorde hoopvol uiter, asook die musiekblyspel Chicago, die wetenskapsfiksie Back to the Future en die Brad Pitt-treffer Meet Joe Black sal eersdaags by uitgesoekte fliekteaters teen R50 per kaartjie te sien wees.

Die vertonings vorm deel van Ster‑Kinekor se Throwback Cinema-veldtog, waar tydlose treffers elkeen ʼn week lank na die grootskerm teruggebring word.

Die gewilde Britse romantiese komedie Love, Actually het in Desember  as deel van dié veldtog ʼn terugkeer na die grootskerm gemaak.

‘Chicago’ het in 2003 ses Oscar-toekennings ingeoes.

Chicago sal vanaf 10 Mei te sien wees, Meet Joe Black vanaf 17 Mei, Notting Hill vanaf 24 Mei en Back to the Future vanaf 31 Mei.

Regisseur Rob Marshall, verantwoordelik vir treffers soos Pirates of the Carribean: On Stanger Tides en ook die nuwe herlewings van The Little Mermaid (2023) en Mary Poppins Returns, het sy regisseursdebuut met Chicago gemaak.

Dié fliek het ses Oscar-beeldjies ingeoes en was ʼn treffer onder musiekblyspel-liefhebbers én fliekkritici.

Notting Hill (1999) was een van Richard Curtis, wat die draaiboeke vir flieks soos Love, Actually, Four Weddings and a Funeral en Bridget Jones’s Diary geskryf het, se grootste treffers en het een van die Britse flieks met die hoogste inkomste ooit geword.

In Meet Joe Black (1998) vertolk Brad Pitt die rol van die dood teenoor Anthony Hopkins se sakeman-karakter, en Pitt se karakter word onverwags verlief op die sakeman se dogter.

Back to the Future (1985) met ʼn jong Michael J. Fox in die hoofrol is tot vandag toe een van die bekendste wetenskapfiksieflieks uit Hollywood.

Robert Zemeckis en Bob Gale se draaiboek vir die fliek word ook gereeld in draaiboekskryfklasse as ʼn voorbeeld van puik storievertelling gebruik.

Throwback Cinema kan by die volgende teaters geniet word:

  • Brooklyn Mall en The Grove Mall in Pretoria.
  • Eastgate Mall en Rosebank Cinema Nouveau in Johannesburg.
  • Gateway Mall en Shelly Beach Mall in KwaZulu-Natal.
  • Garden Route Mall in George.
  • Somerset Mall in Somerset-Wes, asook by die Tygervallei-winkelsentrum en die V&A Waterfront in Kaapstad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

George ·

Charge ons daai jare se ticket fees ook. Oor die R600 vir familie van 4, sonder snacks

OneWheel ·

Dis nou ‘n uiters flou poging om die era wat eintlik lankal verby is, weer te probeer lewe gee… Almal gebruik deesdae “streaming” van een of ander aard – lekker goedkoop en gerieflik met ‘n dataprojektor in jou eie huis. EN jy kan gou “pause” om versnaperinge in die yskas te kry… SK en ander filmteaters se dae is getel.

Vonkprop ·

Ag asseblief. Ons kan daardie goed op Youtube of stromingsdienste kyk. Maak julle kaartjies en eetgoed goedkoper dan sal mense weer kom. Ongelukkig is daar meer kompetisie deesdae vir teaters as 20 jaar terug en dit is goedkoper, so om eerlik te wees teaters veg om relevant te bly. Met die geld wat ek op kaartjies en eetgoed spandeer kan ek ‘n ordentlike klanksisteem koop om baie naby aan die teater se belewenis te kom.

Annali ·

Ek sou dalk gaan, maar lyk my Bloemfontein is nie in die tel nie.

George ·

@Annali, Bloem is daar net vir Rassie en as die staat plase wil kry om geld te was lyk dit my

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.