Stokkie gesteek voor diplomate se aksynsvrye drank, sigarette

Argieffoto (Foto: Annette / Pixabay)

Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), verwelkom die besluit deur die konstitusionele hof wat die regering in staat stel om diplomate te verhoed om tabak en alkohol aksynsvry aan te koop en dit dan teen ʼn wins te verkoop.

Die saak het gespruit uit ʼn onthulling dat die stelsel misbruik word. Die ondersoek beraam die fiskus het sowat R100 miljoen per maand verloor weens dié swartmark.

Die destydse minister van finansies, Tito Mboweni, het daarna ʼn hersiening van aksynsvrye winkels versoek – insluitend ʼn hersiening van die skedules onder die Wet op Doeane en Aksyns en die BTW-wet wat aksynsvrye handelaars reguleer.

Kieswetter het Vrydag gesê die SAID het in gesprek getree met aksynsvrye winkels om hulle bewus te maak van die misbruik van aksynsvrye produkte deur persone met diplomatieke immuniteit en -voordele en om ʼn voorgestelde kwotastelsel aan klante te kommunikeer wat die verkope en aankope van alkohol- en tabakprodukte deur diplomate sal reguleer.

Wysigings aan die skedules van die BTW-wet en Doeane- en Aksynswet is tussen November en Desember 2020 gepubliseer.

Die minister het daarna die wysigings goedgekeur en ʼn kwotastelsel het op 1 Julie 2021 in werking getree.

ʼn Ondersoek deur die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het bevind dat een diplomaat binne drie maande R36 miljoen spandeer het aan aksynsvrye alkohol, het die Sunday Times  in 2021 berig.

ʼn Maand voor die wysigings in werking getree het, het handelaars, insluitend Nu Africa Duty-Free Shops, ʼn aansoek in die hooggeregshof gebring. Dié aansoekers het die grondwetlikheid betwis van die mag wat ʼn minister het om die skedules te wysig om handel te reguleer, asook die proses wat die minister gevolg het. Die handelaars het aangevoer die proses was arbitrêr, irrasioneel en die prosedure was onregverdig.

Die hooggeregshof het in die handelaars se guns bevind en bepaal dat die proses onregverdig was en dat die wetgewende voorskrifte aan die minister ongrondwetlik was.

Dié twee kwessies is deur die konstitusionele hof oorweeg en die uitspraak is vandeesweek gelewer.

Die konstitusionele hof het met Kieswetter saamgestem dat die wetgewing nie ongrondwetlik is nie. Die uitvoerende owerheid moet die vermoë hê om vinnig te reageer om misbruik te kortwiek.

Die hof het ook bevestig dat die besluit om ʼn kwotastelsel in te stel, “nie arbitrêr, irrasioneel of prosedureel onregverdig was nie”. Die hof het bevind dat, gegewe die grootskaalse misbruik, was die uitvoerende owerheid genoop om die misbruik te takel en die instelling van ʼn kwotastelsel was ʼn regmatige doelwit.

Die konstitusionele hof het ook bevind dat daar behoorlik kennisgewing gestuur is aan die bedryf en die bedryf het ook genoegsaam geleentheid gehad om te reageer.

Die hof het in sy uitspraak verwys na die ondersoek deur Kieswetter, die gesprekke tussen die SAID en die departement, die publikasie van die voorgestelde wysigings en die minister se hersiening van die voorstelle wat ontvang is.

“Hierdie uitspraak is ʼn teken van die SAID se strategiese doel: die SAID sal beslissend en vinnig optree om die misbruik en manipulasie van die belasting- en aksynstelsel te verhoed. SAID sal binne die parameters van die wet optree en met absolute agting aan die grondwetlike pligte wat ons graag onderskryf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.