‘Survivor’: Dié ou spelers wil nuwe spelpatrone baasraak

Nico Panagio is terug as die reeks se aanbieder. (Foto: Verskaf)

Daar word beweer dat ’n ou hond nie nuwe toertjies kan aanleer nie, maar dié voormalige Survivor South Africa-deelnemers gaan opnuut moet uithaal en wys om te verhoed dat hul fakkels vir ʼn tweede keer uitgedoof word.

Twintig spelmeesters uit die eerste vyf Survivor SA-reekse gaan ʼn tweede kans kry om vir die R1 miljoen-prysgeld mee te ding in Survivor South Africa: Return of the Outcasts wat van 18 Julie op M-Net (kanaal 101 op DStv) te sien is.

Volgens Leroux Botha, uitvoerende en kreatiewe vervaardiger van dié reeks, is die jongste aflewering “ʼn totaal unieke konsep” omdat dit juis buiteperde insluit wat bekend is vir rugstekery, strategieë en konkelry, sowel as deelnemers waarop die kollig nie noodwendig dadelik geval het nie.

“Hierdie is nie ’n All Stars-seisoen nie. Al die deelnemers wat hierdie seisoen na die wedstryd terugkeer, het spoke om te ruste te lê, met die bykomende uitdaging dat almal presies weet hoe hulle voorheen die spel aangepak het.”

Aanhangers sal vanjaar ook met vier episodes per week bederf word tot die wenner op 25 Augustus aangekondig word.

Hier is die deelnemers:

  • Francois “Chappies” Chapman (31)
  • Vorige seisoen: Survivor South Africa: Immunity Island (S8)

Francois “Chappies” Chapman. (Foto: Verskaf)

Die entrepreneur van Centurion het sedert die vorige seisoen ʼn pa geword, wat hy sê hom rustiger en ywerig gemaak het om ʼn doelgerigte lewe te lei. Uit sy vorige ervaring het hy geleer om te dink voordat hy praat, om te verhoed dat mense vervreem word en dan té laat probeer om te versoen.

  • Danté de Villiers (31)
  • Vorige seisoen: Survivor South Africa: Island of Secrets (S7)

Danté de Villiers. (Foto: Verskaf)

Die voormalige koffiewinkeleienaar van Dwarskersbos het die wêreld vol gereis, maar het onlangs na sy tuiste aan die Kaapse Weskus teruggekeer. Die natuur- en seeliefhebber is nou ʼn podsendingsaanbieder en glo dat sy teruggetrokkenheid hom verhoed het om ander deelnemers te bevriend. Hy gaan dié keer dinge egter anders doen.

  • Dino Paulo (31)
  • Vorige seisoen: Survivor South Africa: Immunity Island (S8)

Dino Paulo. (Foto: Verskaf)

Die Johannesburger se sjarmante en vriendelike entoesiasme het deelnemers se harte maklik gewen. Uit sy vorige Survivor-ervaring het hy geleer om meer op sy spelkennis en instink staat te maak en sodoende sy paranoia hok te slaan.

  • Felix Godlo (32)
  • Vorige seisoen: Survivor South Africa: Island of Secrets (S7)

Felix Godlo. (Foto: Verskaf)

Die toegewyde pa van twee kom uit ’n baie tradisionele familie en glo dat hy sy natuurlike leierskapvaardighede in sy vorige seisoen onderdruk het en afsydig voorgekom het. Dié keer wil hy sterker bande met sy spanlede smee.

  • Killarney Jones (51)
  • Vorige seisoen: Survivor South Africa: Champions (S5)

Killarney Jones. (Foto: Verskaf)

Die gevegkunstenaar het al Kilimanjaro geklim en is taai, spraaksaam en toegewyd om tot die bittereinde te veg. Sy glo sy het nie die spel goed verstaan ​​in haar vorige seisoen nie en het meer staatgemaak op haar fisieke vaardighede as die sosiale en strategiese aspekte daarvan. Hierdie keer verstaan ​​sy die konsep beter en sal sy steeds fisiek wil meeding, maar ook ’n sagter aanslag met spanlede hê.

  • Marian de Vos (32)
  • Vorige seisoen: Survivor South Africa: Champions (S5)

Marian de Vos. (Foto: Verskaf)

Die Kapenaar en modeaankoper is self ʼn entoesiastiese Survivor-aanhanger en het elke seisoen noukeurig gevolg. Desondanks het sy steeds nie as ʼn wenner uit haar seisoen getree nie, maar is as Survivor SA se eerste ware vroulike skurk bestempel. Haar grootste uitdaging hierdie seisoen sal wees om aan te pas by die manier waarop die spel verander het in die agt jaar sedert sy gespeel het.

  • Meryl Szolkiewicz (31)
  • Vorige seisoen: Survivor South Africa: Island of Secrets (S7)

Meryl Szolkiewicz. (Foto: Verskaf)

Die ma van drie is ook ʼn groot aanhanger van die reeks en het na Survivor haar krag en ’n nuutgevonde vreugde vir die lewe herontdek. Sy wil met haar nuwe seisoen egter versigtig wees met haar empatiese geaardheid.

  • Palesa Tau (31)
  • Vorige seisoen: Survivor South Africa: Philippines (S6)

Palesa Tau. (Foto: Verskaf)

Tau werk as ’n radio-aanbieder en vervaardiger, bied haar eie gesondheidsgeselsprogram aan en is ook ’n stemkunstenaar. Sy glo Survivor het haar selfvertroue persoonlik en professioneel ’n hupstoot gegee. Sy het voorheen geen voorafbepaalde strategie gehad nie en het verkies om instinktief te speel, maar hierdie keer wil sy meer sosiaal en proaktief wees.

  • Phil Dickson (40)
  • Vorige seisoen: Survivor South Africa: Champions (S5)

Phil Dickson. (Foto: Verskaf)

Die voormalige brandweerman en paramedikus werk nou as ʼn brandrisiko-assesseringsbestuurder in Johannesburg. Hoewel hy nou ʼn toegewyde man en pa is, het hy steeds sy kenmerkende stoute streek. Hy sê dat vorige seisoene nie met syne vergelyk kan word nie en dat deelnemers van sy tyd onvoorbereid was en aanvanklik gesukkel het om aan te pas.

  • Pinty Nkanjeni (30)
  • Vorige seisoen: Survivor South Africa: Immunity Island (S8)

Pinty Nkanjeni. (Foto: Verskaf)

Nkanjeni het op die klein plattelandse dorpie Hogsback in die Oos-Kaap grootgeword en is ʼn seiljagbemanningslid. Sy voel sy het baie gegroei sedert haar vorige seisoen van Survivor. Sy glo sy het ʼn sterk werksetiek om die kamp gehad en was waardevol in uitdagings, maar haar gebrek aan sosiale vaardighede en konfronterende gedrag het haar spel laat struikel.

  • PK Phetoe (29)
  • Vorige seisoen: Survivor South Africa: Philippines (S6)

PK Phetoe. (Foto: Verskaf)

Die ambisieuse en gedrewe myningenieur woon en werk die afgelope twee jaar in Lephalale in Limpopo. Hy het soos vele ander gedink dat Survivor meer oor die fisieke deel gaan, maar hy wil hierdie keer meer mense gemakliker om hom laat voel en sterker alliansies vroeër in die spel bou.

  • Seamus Lind Holmes (29)
  • Vorige seisoen: Survivor South Africa: Philippines (S6)

Seamus Lind Holmes. (Foto: Verskaf)

Seamus is ’n Durbaniet wat as streeksverkoopsbestuurder sy mededingende geaardheid gebruik om uit te blink in uithouvermoësport. Hy is ’n massiewe Survivor-aanhanger en het die strategieë, helde, skurke en die speletjie se evolusie oor die jare nagevors. Hy voel hy het meer volwasse sedert sy vorige seisoen geword en hy is vasbeslote om alles met sy tweede poging in die stryd te werp.

  • Shane Hattingh (50)
  • Vorige seisoen: Survivor South Africa: Champions (S5)

Shane Hattingh. (Foto: Verskaf)

Die stelontwerper en pa van vier sê dat hy in sy tyd op Survivor in beheer van die spel gevoel het, maar erken hy het selfvoldaan geraak en toegelaat dat mense hom  ʼn rat voor die oë draai – ’n fout wat hy nie weer sal maak nie.

  • Shona MacDonald (33)
  • Vorige seisoen: Survivor South Africa: Champions (S5)

Shona MacDonald. (Foto: Verskaf)

Shona is ’n suksesvolle entrepreneur en het al sukses op die televisieprogram Shark Tank South Africa gehad. Sy erken dat sy voorheen oorweldig was en dat haar selfbewustheid en onsekerheid oorgeneem het tydens haar eerste keer op Survivor. Die feit dat haar destydse spankaptein haar as ’n swak fisieke speler uitgesonder het, het haar spel ook erg verswak. Sy is egter gretig om nie weer dieselfde foute maak nie.

  • Steffi Brink (30)
  • Vorige seisoen: Survivor South Africa: Island of Secrets (S7)

Steffi Brink. (Foto: Verskaf)

Brink is ’n voormalige skoonheidskoningin, maar is ook baie sportief. Sy is na haar tyd op Survivor deur die Blitsbokkies – die SA vroue-sewesrugbyspan – na ’n oefenkamp opgeroep, maar het haar knie ernstig beseer en ’n lang herstelpad gehad. Sy wil hierdie seisoen minder skaam wees om te deel wat op haar hart is, veral tydens eliminasies. Sy het haar les uit haar seisoen geleer en sal hierdie keer harder aan die sosiale kant van haar spel werk.

  • Tania Copeland (53)
  • Vorige seisoen: Survivor South Africa: Island of Secrets (S7)

Tania Copeland. (Foto: Verskaf)

Die kleurvolle afgetrede entrepreneur lei nou ’n stil lewe aan die kus, maar is steeds ’n ywerige rotsklimmer en word nie deur die samelewing se reëls ingeperk nie. Terwyl sy voorheen baie tyd op haar eie deurgebring het op soek na immuniteitbeeldjies, beplan sy om nou meer tyd saam met haar spanmaats deur te bring.

  • Tejan Pillay (40)
  • Vorige seisoen: Survivor South Africa: Maldives (S4)

Tejan Pillay. (Foto: Verskaf)

Pillay is ʼn elektriese ingenieur en werk al 21 jaar vir Eskom. Hy was een van Survivor SA se vroeë skurke. Hy gaan mooi dophou om te sien wie hy kan vertrou, maar beplan nie om sy vertroue vir niks weg te gee nie.

  • Tevin Naidu (28)
  • Vorige seisoen: Survivor South Africa: Philippines (S6)

Tevin Naidu. (Foto: Verskaf)

Naidu is ʼn mediese dokter en wil in neurowetenskap spesialiseer. Naidu is ná ’n misleidende sosialemediaplasing in aanloop tot die Survivor South Africa: Philippines-seisoen persoonlik en professioneel verstoot en het onttrek om ernstige introspeksie te doen. Hy wil hierdie keer erkenning kry en gereken word as een van die beste Survivor-spelers ter wêreld.

  • Thoriso M-Afrika (37)
  • Vorige seisoen: Survivor South Africa: Immunity Island (S08)

Thoriso M-Afrika. (Foto: Verskaf)

Bemarkingsbestuurder Thoriso is ʼn enkelma en ʼn groot Survivor-aanhanger. Sy wil hierdie keer ʼn meer sosiale spel speel, al beteken dit dat sy moet voorgee om van mense te hou. Sy erken haar vorige keer op Survivor was ʼn slag vir haar ego en sy wil in hierdie reeks beter met spanlede omgaan.

  • Toni Tebbutt (41)
  • Vorige seisoen: Survivor South Africa: Philippines (S6)

Toni Tebbutt. (Foto: Verskaf)

Tebbutt, ʼn inhoudontwikkelaar van Kaapstad, sê Survivor het ʼn groot rol in haar persoonlike herontdekking as mens gespeel. Sy is ook ongelooflik aktief in die Survivor-gemeenskap en bied aanlyn Survivor-speletjies aan, neem deel aan Survivor-aanhangergeleenthede en is aktief op sosialemediaplatforms.

Sy voel sy het te veel emosionele keuses in haar seisoen gemaak, eerder as om haar kop te volg. Sy is vasbeslote om nie dieselfde fout te maak en haarself weer te dwing om tussen lojaliteit en strategie te kies nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Barney ·

Survivor SA is ‘n grap. Die vorige seisoen was die eerste een wat ek gekyk het en ek was skaam vir die deelnemers se part. As jy wil deelneem, doen ten minste ‘n paar fiksheidsoefeninge voor die tyd en leer swem. Ek sal verseker myself nie straf deur nog ‘n seisoen te kyk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.