Die toekoms van Europa lyk donker en gevaarlik

’n EU-vlag voor die Europese parlementsgebou in Straatsburg, Frankryk. (Foto: Jean-Francois Badias, AP)

Oor enkele weke, van 6 tot 9 Junie, sal honderde miljoene kiesers in al 27 Europese Unie-lidlande die geleentheid kry om nuwe lede vir die Europese Parlement te verkies, wat uiteindelik bepalend vir die toekoms van die hele Europa kan wees.

Die afgelope week het die Franse president, Emmanuel Macron, in ’n poging om klem te plaas op die belangrikheid van die verkiesing, tydens ’n lesing by die Sorbonne-universiteit in Parys beweer dat Europa besig is om te sterf. Volgens Macron moet Europeërs van hulle selfopgelegde naïwiteit ontsnap om te kan oorleef. Hy het veral verwys na Russiese militêre bedreigings en Chinese ekonomiese bedreigings wat Europa kan vernietig.

Macron is korrek oor die afnemende aptyt in die VSA om vir Europa se verdediging in te staan, sowel as die groeiende veiligheidsrisiko wat Rusland vir Oos-Europa inhou. Sy opsomming oor die Chinese ekonomiese strategie wat daarop gefokus is om vervaardiging in ander lande te vernietig deur die reuse-uitvoer van gesubsidieerde Chinese produkte, is ook korrek. Sy standpunt dat Europeërs ʼn uitdaging met selfopgelegde naïwiteit het, is ook in die kol. Macron mis egter ’n veel groter uitdaging en dit is die demografiese en kulturele verval wat besig is om Europa van binne op te vreet terwyl alle fokus op eksterne bedreigings is.

Emmanuel Macron (Foto: Ludovic Marin/Pool/AFP)

Die Amerikaanse skrywer George Weigel het reeds ’n paar jaar gelede gewaarsku dat Europa besig is om homself te ontvolk. Volgens Weigel is daar ’n totale afwesigheid van beskawingsmoraal onder ’n meerderheid van Europeërs, wat tot ’n bevolkingsinploffing lei. Elke persoon leef vir sy eie welvaart en daar is geen behoefte meer om die Westerse beskawing, kultuur, tale, gewoontes en tradisies aan volgende geslagte oor te dra nie.

In elkeen van die 27 Europese Unie-lidlande is die geboortesyfers onder die vervangingskoers. Die enigste twee redes waarom die meeste lande in Wes-Europa se bevolkings nog styg, is weens immigrasie, veral uit Oos-Europa, die Midde-Ooste, Asië en Afrika, en weens veroudering van die bevolking. Italië se regering het onlangs bekend gemaak dat dié land se bevolking verlede jaar weer gedaal het. Teen 2050 sal 60% van Italië se bevolking geen broer, suster, neef, niggie, oom of tante hê nie omdat byna niemand tans meer as een kind kry nie. Teen 2050 sal Duitsland se bevolking tot die ekwivalent van die bevolking van die voormalige Oos-Duitsland krimp, terwyl Spanje 25% van sy bevolking sal verloor.

In Oos-Europa is hele beskawings besig om uit te sterf, met Bulgarye wat tussen 2020 en 2050 ook ’n kwart van sy bevolking sal verloor. In lande soos Serwië, Roemenië, Bosnië, Oekraïne, Moldawië, Albanië en Kroasië sal die lande se bevolkings teen 2050 ook tussen 20% en 25% kleiner as in die jaar 2000 wees. Met baie min kinders, emigrasie van jong volwassenes en grotendeels ouer bevolkings kan hierdie lande se bevolkings teen 2100 heeltemal uitgewis wees.

Tent langs die Seine-rivier in Maart 2024 waar hawelose vlugtelinge woon. (Foto: Stephane Mouchmouche / Hans Lucas / Hans Lucas via AFP)

In Wes-Europa word die persepsie van bevolkingstabiliteit en selfs groei lewend gehou deur massa-immigrasie. Hoewel immigrante uit Oos-Europa gedeeltelik assimileer, skep immigrante uit Afrika, die Midde-Ooste en Asië toenemend parallelle gemeenskappe wat hulle eie kulture, tale, gelowe (veral die Islam) en lojaliteit teenoor hulle lande van herkoms in stand hou. Parallelle immigrantebevolkings wat die kultuur en identiteit van Europese lande verwerp, kan uiteindelik oor die volgende dekades tot wesenlike interne konflik en onstabiliteit in talle Wes-Europese lande lei.

Waarskuwings oor die verval van Europa en daarmee saam die Westerse beskawing word reeds dekades lank gerig. Die gerespekteerde ekonoom en skrywer Niall Ferguson het reeds in 2004 in die New York Times gewaarsku dat eenderde van Europa se bevolking teen 2050 ouer as 65 sal wees, wat die ekonomiese en ander geleenthede wat Europa bied, vir ’n jong en gemotiveerde Moslem-bevolking van Midde-Oosterse en Noord-Afrika-lande aanloklik sal maak – tot so ’n mate dat uiteindelik van die kolonisasie van Europa deur jong Moslems gepraat sal kan word.

Niall Ferguson (Foto: HENNING KAISER / DPA / dpa Picture-Alliance via AFP)

Weigel argumenteer dat demografiese leemtes nie onvervuld bly nie, “veral nie wanneer die betrokke demografiese vakuum ’n kontinent is wat oor ontsaglike ekonomiese hulpbronne beskik nie”. Volgens Weigel het daar sedert die immigrasie uit Moslem-lande begin het, aanvanklik vir gasarbeiders en later van tyd meer permanent in die 1970’s, reeds byna 40 miljoen Islamitiese immigrante in Europa aangekom. Dit is veral immigrante uit Noord-Afrika en Turkye wat regoor Europa volledige woonbuurte, dorpe of stede begin beset het en daar parallelle samelewings opgerig het. Hierdie immigrante het ’n baie hoë bevolkingsaanwas en sal teen die huidige verloop uiteindelik die meerderheid in elke land in Wes-Europa word.

Die Franse historikus Alain Besançon, die Egipties gebore skrywers Bat Ye’or en Raymond Ibrahim, en die Amerikaanse politikus en skrywer Pat Buchanan, waarsku reeds dekades lank oor dit waarna Ferguson as die opkoms van “Eurabië”, dus ’n Arabiese Europa, verwys. Buchanan het in sy boek The Death of the West gewaarsku dat die geboorteplek van die Westerse beskawing besig is om in die graf van dieselfde beskawing omskep te word. Deesdae neem die Britse skrywer Douglas Murray leiding met verskeie boeke oor die krisis waarin Europa en die Weste verkeer.

Europese verkiesing

Macron se toespraak was natuurlik ’n desperate poging om sy liberale Renaissance-party se sukkelende veldtog momentum te gee. In alle peilings loop die regse Marine Le Pen se Rassemblement National voor. Macron se poging om Rusland en China die skuld te gee vir die geldige vrese oor die toekoms van Frankryk, gaan waarskynlik nie in hierdie verkiesing slaag nie.

Regoor Europa is daar ’n groeiende angs oor hoe die toekoms van die kontinent daarna gaan uitsien. Sou ’n derde van die Europese bevolking teen 2050 ouer as 65 wees en dus afgetree wees, sal dit beteken dat die huidige welsynstaat in byna elke Europese land in duie sal stort. Om teen 2050 mediese dienste, pensioene en ander basiese dienste aan ’n snel verouderende bevolking te bly voorsien, sal die meeste Europese lande volgens Ferguson ’n persoonlike belastingkoers van 75% moet instel.

Geert Wilders (Foto: REMKO DE WAAL/ANP MAG/ANP via AFP)

Baie Europeërs besef dat met ’n oorlog in Oos-Europa, toenemende ekonomiese uitdagings met ’n aggressiewe China, stygende energiekostes en ’n reusetekort aan arbeid en ’n groeiende skuldlas, Europa binne enkele jare diep in die moeilikheid kan verkeer. Vir sommige Europeërs is massa-immigrasie van Siriërs, Afghane, Turke en mense uit Noord-Afrika ’n korttermynoplossing. Al hoe meer Europeërs besef egter dat hierdie korttermynoplossing uiters negatiewe langtermyngevolge gaan inhou.

Dit is ook die rede waarom Le Pen se party in Frankryk voorloop. Netso is dit ook die rede waarom die Partij voor de Vrijheid (PVV) van Geert Wilders in Nederland voorloop, Herbert Kickl se Vryheidsparty in Oostenryk gemaklik voor is en Tom van Grieken se Vlaams Belang in Vlaandere eerste staan in die peilings. In Duitsland staan die regse Alternatief vir Duitsland (AfD) in ’n sterk tweede posisie. In Spanje groei steun vir die regse Vox, tans in die derde plek, en in Portugal is die regse Chega ook in ’n baie sterk derde posisie. Regoor Europa neem steun vir regse anti-immigrasiepartye toe.

Terwyl die sentrumregse Christelike volkspartye in Junie waarskynlik weer die meeste setels in die Europese Parlement gaan wen, gaan twee groepe regse partye, die Europese Konserwatiewes en Hervormers (ECR) asook Identiteit en Demokrasie (ID), beide sterk groei toon. Die vraag is egter of hierdie groei in steun vir anti-immigrasiepartye nie net bloot reaksionêr is nie.

Italiaanse eerste minister, Giorgia Meloni (Foto: Diego Ravier / Hans Lucas / Hans Lucas via AFP)

Die risiko wat massa-immigrasie vir Europa inhou, is belangrik, maar regse partye skram meestal weg daarvan om van die risiko van bevolkingsinploffing te praat. Nog minder wil hulle praat oor die redes waarom Europeërs so min kinders kry. Die leier van die PVV in Nederland, Geert Wilders, die AfD in Duitsland se Alice Weidel, Chega in Portugal se André Ventura en die Deense Volksparty se Morten Messerschmidt is almal kinderloos. Italië se regse premier, Giorgia Meloni, het een kind. So het Jimmie Åkesson, leier van die regse Sweedse Demokrate, en Herbert Kickl van die regse Vryheidsparty in Oostenryk ook elkeen net een kind.

Die les wat talle regse Europese leiers nog sal moet leer, is dat leierskap oor meer as skop, skree en raas gaan, maar dat die voorbeeld wat jy stel die beste vorm van leierskap is. Vir Europa om te oorleef moet die veiligheidsbedreiging uit Rusland, die ekonomiese bedreiging deur China en die kulturele bedreiging deur massa-immigrasie begryp en hanteer word. Dit is egter nie genoeg nie. Met ’n bevolkingsinploffing voorhande sal Europa in elk geval sterf, en daarom moet Europa se bevolkingsaanwas drasties toeneem.

Die kombinasie van ’n snel verouderende bevolking, min kinders, ’n sterk maatskaplike welsynstaat wat uitgebreide dienste aan sy burgers bied en groeiende staatskuld voorspel niks goeds vir Europa nie. Terwyl Macron tereg oor verdediging en die beskerming van Europese produsente praat, verkies hy om nie oor Frankryk se staatskuld wat 112% van die land se bruto binnelandse produk uitmaak, te praat nie. ’n Verouderende bevolking, ’n stagnante ekonomie en duur regeringsprogramme gekombineerd met hierdie vlakke van skuld voorspel ’n totale ineenstorting van die politieke en ekonomiese orde in Frankryk.

‘n Kamp van migrante vanuit Wes-Afrika en Afghanistan in Parys, Frankryk in Desember 2022 (Foto: Maxime Gruss / Hans Lucas/AFP)

In Griekeland, waar die demografiese werklikheid selfs erger is, is die staatskuld 166% van die BBP; in Italië is dit 141%; in Spanje 110%; in België 108% en in Portugal ook 108%. Al hierdie lande het snel verouderende bevolkings, uitgebreide regeringsprogramme soos pensioenskemas, en ’n toename in laag geskoolde immigrante wat in ’n groot mate juis van regeringsprogramme soos gratis behuising, gratis mediese dienste en gratis onderwys en opleiding gebruik wil maak.

Die probleem met die huidige verkiesingsveldtog is dat partye aan die linkerkant van die politieke spektrum die meeste probleme ontken en eerder op klimaatsverandering en menseregte wil fokus, terwyl regse partye alarm maak oor die regte kwessies sonder om wesenlike oplossings aan te bied of die nodige leierskap te toon.

Wat voorspel dit vir die toekoms van Europa?

Die uitdaging in Europa is om die veelkantigheid van die krisis wat Europa in die gesig staar, te verstaan. Bestaande inkomstevlakke, relatiewe vrede en veiligheid, hoë lewensgehalte en van die beste lewenstyle ter wêreld het die afgelope paar dekades tot gevolg gehad dat Europeërs naïef, ontkennend en onwillig is om op toekomstige bedreigings ag te slaan.

Arbeidsbeskerming wat deur vakbonde en sosialistiese partye oor dekades na die Tweede Wêreldoorlog daargestel is en sosiaal-demokratiese welsynsbesteding wat deur regerings oor tyd geïmplementeer is, het ’n skuldlas, pensioenverpligting en ʼn verwagting van uitgebreide dienste onder Europeërs geskep, wat onvolhoubaar is.

’n Lae bevolkingsaanwas en hoër lewensverwagting veroorsaak arbeidstekorte, stagnante ekonomieë en reusedruk op regerings om vir die groter wordende groep afgetredenes te sorg. Arbeiders afkomstig van wêreldstreke met ’n hoë bevolkingsaanwas en arbeidsoorskot lyk oor die kort termyn aantreklik, maar skep enorme kulturele en identiteitsvraagstukke.

Die buitekant van die Mevlana moskee in Rotterdam, Nederland (Foto: :ANP MAG / ANP via AFP)

Een van die sterkste samebindende faktore vir eeue in Europa was die Christelike geloof. Met die verlies aan geloof onder ’n meerderheid van Europa se bevolking is hierdie samebinding ook toenemend verlore.

Skuldgevoelens oor alles, van slawerny, kolonialisme en die Joodse volksmoord, dra in Europa by tot ’n oordrewe klem op die regte van voorheen onderdrukte nasies en volkere in die wêreld. Die wyse waarop die Duitsers in 2015 en 2016 gedink het dat hulle die vlugtelingkrisis wat deur ’n burgeroorlog in Sirië veroorsaak is, kon oplos, is ’n goeie voorbeeld hiervan. Uiteindelik, met ’n paar miljoen Siriese immigrante later, sit Duitsland met reuse-uitdagings weens die toename in misdaad deur immigrante, maar ook weens die onvermoë en onwilligheid van immigrante om te assimileer.

Wladimir Poetin van Rusland, ’n outoritêre leier wat deur ’n sterk drang na die herstel van Russiese imperialisme gedryf word, sien al die swakhede in Europa goed raak en gebruik dit toenemend om die ou Russiese Ryk weer te probeer herstel. Dit skep legitieme vrese dat die Baltiese State, Moldawië, Georgië en ander Oos-Europese lande en streke ná Oekraïne in Poetin se visier kan wees.

Terwyl Europese bedrywe teen onmededingende praktyke deur veral China beskerm moet word, is massaproduksie in Europa toenemend onmededingend weens buitensporige energiekoste, salarisse en streng regulasies. Daarmee saam gaan daar oor die volgende paar jaar ’n tekort aan miljoene jong arbeiders regoor Europa ontstaan. Europese produksie sal moet afneem of immigrasie sal moet toeneem. Daar is geen ander opsie nie. Die ekonomiese bedreiging kom dus nie net van buite nie, maar ook van binne.

Jaco Kleynhans, die Solidariteit Beweging se hoof van internasionale skakeling. (Foto: Verskaf/Jaco Kleynhans)

Ware leierskap in Europa sal dus moet wegstuur van die volstruispolitiek van linkse partye en die populistiese retoriek van regse partye. Eerlike erkenning oor die veelkantigheid van Europa se bestaanskrisis is nou nodig. Dit sluit in beide eksterne en interne bedreigings. Pogings in sommige Europese lande om die bevolkingsaanwas te probeer verhoog, is prysenswaardig.

Die oplossing vir Europa se bestaansvraagstuk lê opgesluit in vyf belangrike stappe. Eerstens is ʼn sterk eie verdedigingstrategie nodig. Tweedens is groter beskerming van eie produksie noodsaaklik. Derdens moet immigrasie tot ’n minimum beperk word, en moet die snelle deportasie van onwettige immigrante prioriteit geniet. Europa se skuldlas moet weggewerk word deur ongewilde politieke en ekonomiese besluite. Maar laastens, en nie die minste belangrik nie, sal die bevolkingsaanwas in Europa pro-aktief verhoog moet word. Dit kan nie geskied sonder ’n herontdekking van identiteit, geloof en die noodsaak om die Westerse beskawing aan volgende geslagte oor te dra nie.

In 1984 het Jacques Chirac, die destydse president van Frankryk, gesê: “In demografiese terme verdwyn Europa en sal ons lande binnekort leeg wees.” Drie jaar later het die Italiaanse demograaf Antonella Pinnelli gesê: “Wanneer ‘n samelewing die wil verloor om voort te plant, verloor dit sy lewenskragtigheid.”

Die waarskuwings word reeds dekades lank uitgespreek. Sonder beter leierskap sal al hierdie waarskuwings nutteloos wees. Juis daarom moet ons die waarskynlikheid van ’n sterwende Europa verreken.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Dieselfde met die wit bevolking in die VSA. Hul getalle word ook minder en hulle is reeds ‘n minderheidsgroep, maar die getalle word darem tydelik aangevul met immigrante uit Europa. Maar die immigrante uit ander dele van die wêreld bring drastiese demografiese veranderinge mee. En dit sal wêreldpolitiek wesenlik beïnvloed. Teen 2050 sal die VSA se krag en mag net ‘n skaduwee wees vergeleke met vandag. Amerikaanse Christene raak seker ook bekommerd.Vraag is, hoe gaan dit Afrikaners hier aan die suidpunt van Afrika raak.

Marthinus W ·

“Wladimir Poetin van Rusland, ’n outoritêre leier wat deur ’n sterk drang na die herstel van Russiese imperialisme gedryf word, sien al die swakhede in Europa goed raak en gebruik dit toenemend om die ou Russiese Ryk weer te probeer herstel. ” Hoelank moet ons nog sulke mistastings lees?

Kokerboom ·

Massa homogene samestellings soos in China sit soos ‘n valk en wag vir val van die Weste!Die verval kan Westerlinge net voor hul eie deur lê
‘n Baie donker toekoms lê vir Weste voor

Pieter ·

Liewe hemel dis alles so negatief hier. Vat dit van iemand wat nou al ‘n ruk in Nederland bly. Daar is uitdagings, maar niks wat nie oorkom sal word nie. En die uitdagings is niks in vergelyking met Suid Afrika nie.

Maak die waarheid jou ongemaklik Marthinus?

Kokerboom kom ons kyk hoeveel mense migreer na China om hul ekonomie aan die gang te hou soos hulle bevolking met ‘n derde verminder oor die volgende paar dekades. Of hulle raak minder homogeen (hoe erg ek weet) of hulle verloor hul huidige ekonomiese struktuur. Die punt is daar is ook baie onsekerhede.

Marthinus W ·

Pieter, dis nie die waarheid nie, maar disinformasie. Daar is videoberigte deur Nederland se eie NOS wat dit bevestig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.