Lewis skepties oor toekoms van verspring

Carl Lewis, die Amerikaanse verspringlegende. (Foto: X)

Ná 23 jaar het geen atleet nog naby die Olimpiese rekord van 8,90 m in die verspringitem gekom nie. Carl Lewis, die Amerikaanse verspringlegende, is bekommerd oor die toekoms van dié velditem.

Lewis het veral die ingesteldheid van opkomende atlete bevraagteken.

Die 62-jarige het vier agtereenvolgende Olimpiese goue medaljes tussen 1984 en 1996 ingeoes, terwyl hy ook met twee wêreldtitels spog.

Hy was ʼn dekade lank onoorwonne in die item voordat hy deur Mike Powell by die 1991-Wêreldkampioenskap in Tokio geklop is. Hul wedywering word as een van die opwindendste tweestryde nóg beskou.

Powell het op daardie dag die wêreldrekord met sy sprong van 8,95 m verbeter.

“Hoekom is die verspringitem nie meer so gewild nie? Doodeenvoudig omdat niemand meer ver kan spring nie,” het die uitgesproke Lewis gesê.

Miltiadis Tentoglou van Griekeland het die Olimpiese titel in Tokio met ʼn afstand van 8,41 m ingeoes, terwyl hy ook goud by verlede jaar se Wêreldkampioenskap met ʼn sprong van 8,52 m gesmaak het.

“Dit is hoegenaamd nie rocket science nie. Mense was opgewonde omdat hulle gewoond geraak het aan atlete wat 8,60 m kon spring. Terselfdertyd was die nodige wedywering ook teenwoordig gewees.”

Lewis het by die onlangse Wêreldaflosbyeenkoms in die Bahamas gesê dat aanhangers “niks spesiaals het om na uit te sien nie”.

Hy meen dat tye verander het en dat nuwelinge nie meer bereid is om die streng oefenvereistes van ʼn topverspringatleet te volg nie.

“Ek dink nie ons kultuur maak kinders meer groot om hard te werk nie. Die ywer is net nie meer daar nie,” het hy gesê.

“En ek praat nie net nou van atlete nie, maar sommer ook van die jeug in die algemeen. Ek is net eerlik.”

Lewis beskou Jesse Owens as ʼn rolmodel – die Amerikaanse atleet wat ʼn sportikoon geword het toe hy vier goue medaljes by die Berlynse Olimpiese Spele in 1936 ingeoes het.

Owens het ook onder meer met die verspringtitel gespog.

“Owens sou tot vandag toe elke liewe eindronde van die Olimpiese Spele gehaal het. Sy persoonlike beste afstand van 8,13 m sou vir hom die bronsmedalje in Londen besorg het.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.