Renjaers hou Yanks vasgenael voor kassie

Die geruite vlag is vir Lando Norris in Miami geswaai. (Foto: X/F1)

Meer as drie miljoen Amerikaners (3,1 miljoen om presies te wees) het Sondag die F1-aksie in Miami op hul TV’s gevolg.

Lando Norris het met die louere weggejaag, met Max Verstappen en Charles Leclerc wat die podium-prentjie voltooi het.

Dit is die meeste kykers nóg uit die VSA. Die vorige rekord van 2,6 miljoen kykers is in 2022 opgestel toe die geruite vlag vir Verstappen in Miami geswaai is.

Daarbenewens het 946 000 kykers die blitsren op ESPN gevolg; óók ’n rekord.

Die vonkelwynproppe het omtrent in die McLaren-hoekie geklap toe Norris sy eerste wedren in 110 probeerslae gewen het.

“Dankie tog, dit is hoogtyd!” het die jong Engelsman ná afloop van die wedren gesê.

“Dit het my ʼn hele ruk geneem, maar ek kon dit uiteindelik regkry. Ek kon uiteindelik vir my span wys waartoe ek in staat is. Dit was ʼn lang en taai wedren, maar ek het gewen en ek is ongelooflik bly!”

Volgens Norris het hy vroeg reeds geweet dat hy vinnig genoeg is om sy stempel op Miami af te druk.

“Ons het nogtans ʼn paar foute gemaak, maar vandag het alles in plek geval. Daarbenewens het ons strategie ook mooi uitgewerk.”

Verstappen is egter steeds die algehele voorloper op die jaerspunteleer en die wedrenaksie word op 17 Mei op die Emilia Romagna-baan in Italië hervat.

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 136 punte
  2. Sergio Perez: 103 punte
  3. Charles Leclerc: 98 punte
  4. Lando Norris: 83 punte
  5. Carlos Sainz: 83 punte
  6. Oscar Piastri: 41 punte
  7. George Russell: 37 punte
  8. Fernando Alonso: 33 punte
  9. Lewis Hamilton: 27 punte
  10. Yuki Tsunoda: 14 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 239 punte
  2. Ferrari: 187 punte
  3. McLaren: 124 punte
  4. Mercedes: 64 punte
  5. Aston Martin: 42 punte.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.