Vroueskeidsregter maak geskiedenis in Bloem

Skotland se Hollie Davidson. (Foto: Patricia de Melo Moreira/AFP)

Hollie Davidson van Skotland sal die eerste vroueskeidsregter word om in ʼn Springbok-toets as die hoofwedstrydbeampte op te tree wanneer die Suid-Afrikaners – óók vir die eerste keer – in ʼn toets teen Portugal in Bloemfontein speel.

Die 31-jarige Davidson het vroeër vanjaar die rugbywêreld aan die gons gehad nadat sy die eerste Skotse vrou geword het om deel van die Sesnasies-reeks te wees. Sy het as assistent-skeidsregter in die kragmeting tussen Engeland en Wallis op Twickenham opgetree.

Haar aanstelling is Dinsdag deur Wêreldrugby bevestig, saam met die wedstrydbeamptes vir die Junie- en Julie-wedstryde.

Chris Busby van Ierland sal die man in die middel wees wanneer die Bokke op 22 Junie hul 2024-seisoen teen Wallis op Twickenham in Londen afskop, terwyl Australië se Angus Gardner en Karl Dickson van Engeland aangestel is om die Suid-Afrikaners se twee toetse teen Ierland te hanteer.

Suid-Afrika se AJ Jacobs is in beheer van die toets tussen Namibië en Portugal in Windhoek, terwyl Griffin Colby een van die assistent-skeidsregters is.

Drie Suid-Afrikaanse televisiewedstrydbeamptes sal ook tydens die middeljaartoetse in aksie wees. Marius van der Westhuizen, Quinton Immelman en Marius Jonker sal die aksie van agter die kassie dophou.

  • Wedstrydbeamptes vir die Junie/Julie-toetsreeks

Springbokke teen Wallis (Twickenham, Londen): Chris Busby (skeidsregter), Christophe Ridley (assistent-skeidsregter), Adam Leal (assistent-skeidsregter) en Mark Patton (TV-skeidsregter).

Springbokke teen Ierland (Loftus Versfeld, Pretoria): Angus Gardner (skeidsregter), Karl Dicksons (assistent-skeidsregter), Mike Adamson (assistent-skeidsregter) en Ben Whitehouse (TV-skeidsregter).

Springbokke teen Ierland (Kingspark, Durban): Karl Dickson (skeidsregter), Angus Gardner (assistent-skeidsregter), Craig Evans (assistent-skeidsregter) en Ian Tempest (TV-skeidsregter).

Springbokke teen Portugal (Toyota-stadion, Bloemfontein): Hollie Davidson (skeidsregter), Craig Evans (assistent-skeidsregter), Mike Adamson (assistent-skeidsregter) en Andrew McMenemy (TV-skeidsregter).

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tanya ·

Absoluut wonderlik! Sy het beslis bewys dat sy die werk goed kan doen!

Manie ·

Moet net nie die spelers straf oor iets wat hulle maande gelede verkeer gedoen het nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.