Swaar straf vir moord op polisieman met eie dienspistool

Zanele Mkhonto in Mpumalanga hooggeregshof (Foto: verskaf)

Die hooggeregshof in Mbombela het Zanele Mkhonto (30) vandeesweek tot 20 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis vir die moord op sers. Mandlenkosi Happy Thwala (47), ʼn polisiebeampte verbonde aan die KaBokweni-polisiestasie in Mpumalanga.

Mkhonto het in November verlede jaar skuld beken en is daarna aan moord skuldig bevind.

Sy het aan die hof gesê dat sy in ʼn romantiese verhouding met Thwala was en dat hulle van Januarie tot Julie 2022 saam in Gedlembane, Pienaar, gewoon het. Die paartjie het op 2 Augustus 2022 ʼn woordewisseling gehad en Mkhonto het Thwala verskeie kere met sy dienspistool in die kop geskiet terwyl hy geslaap het. Sy het hierna met die wapen en Thwala se voertuig van die toneel gevlug.

Op pad na haar ouerhuis in Masoyi, het Mkhonto ʼn padblokkade gesien en van die moordwapen ontslae geraak. Inwoners het dit daar gevind en aan die polisie oorhandig. By haar ouerhuis het Mkhonto ʼn vriend oor die gebeure ingelig en die polisie is ontbied. Sy is in hegtenis geneem en was sedertdien agter tralies.

Staatsadvokaat Zwelethu Mata het aan die hof gesê Mkhonto het geen berou getoon nie en boonop probeer om haar optrede te versag deur stories aan die hof te vertel.

Mata het aan die hof gesê die optrede is gelykstaande aan gesinsgeweld “en die samelewing wag met opgehoue asem om te sien of vroulike beskuldigdes met meer genade hanteer word as manlike beskuldigdes in gevalle van gesinsgeweld”.

ʼn Slagofferimpakverslag is ook by die hof ingedien. Hierin word uitgestippel hoe Thwala se dood sy ganse familie geraak het. Hy was die enigste lid van die familie met ʼn behoorlike werk en het sy sibbe en uitgebreide familie finansieel ondersteun.

Waarnemende regter Sheila Msibi het in haar uitspraak die dood van ʼn polisiebeampte as ʼn verlies vir die staat en die gemeenskap in die geheel bestempel. Wetstoepassingsbeamptes is dienaars van die gereg, het die regter gesê.

Sy het egter bevind daar was genoeg wesenlike en dwingende omstandighede om van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange tronkstraf af te wyk en Mkhonto is 20 jaar direkte gevangenisstraf opgelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.