Taxi-geweld eis minstens drie

Skermgreep uit Twitter-video (Video: @MavishViwe/Twitter)

Voortgesette probleme tussen taxi-verenigings in die Lusikisiki/Port St Johns-gebied het Dinsdag minstens drie mense se lewens geëis.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê volgens voorlopige berigte het twee taxi-verenigings vanoggend by die taxi-staanplek in Port St Johns op mekaar geskiet.

“Drie veiligheidsbeamptes van een taxi-vereniging van Lusikisiki is noodlottig gewond. Vyf ander persone van die Port St Johns-vereniging is beseer. ʼn Elfjarige seun is tydens die skietery deur ʼn opslagkoeël getref. Hy is na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.”

Drie voertuie is tydens die geveg aan die brand gesteek.

“Multi-dissiplinêre magte is op die grond. Altesaam nege verdagtes is in hegtenis geneem. Die polisie sal in die gebied bly totdat die situasie stabiliseer,” het Naidu bygevoeg.

Lt.genl. Nomthetheleli Mene, provinsiale polisiekommissaris, het die taxi-verenigings gemaan om saam te werk en ʼn gemeenskaplike oplossing te vind vir die voortgesette meningsverskille. “Hierdie wettelose optrede kan nie geduld word nie. Onskuldige lewens word hierdeur geraak. Ons doen ʼn beroep op alle belanghebbendes om onmiddellik na vore te tree en aan konstruktiewe gesprekke deel te neem. ʼn Oplossing moet dringend gevind word om verdere lewensverlies te voorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.