Tonne aartappels bring verligting voor Paasfees

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, help om aartappels af te laai.

Meer as 700 gesinne en verskeie instansies in Gauteng kan die komende Paasnaweek voedsame aartappels op hul spyskaarte sit.

Dit volg nadat ‘n boer, wat anoniem wil bly, 34 ton oftewel 1 249 sakke aartappels aan Solidariteit Helpende Hand geskenk het.

“Dit is voorwaar ‘n welkome seën vir die gemeenskap net voor die Paasnaweek,” sê Chandré Oosthuizen, Solidariteit Helpende Hand se projekorganiseerder wat die ontvangs en verspreiding van die skenking behartig het.

Die aartappels is Woensdag by Solidariteit Helpende Hand se sentrum in Derdepoort in Pretoria afgelewer. Talle organisasies wat baat vind by Solidariteit Helpende Hand se voortdurende pogings om gemeenskappe te ondersteun en voedselsekuriteit te bevorder, kon vooraf registreer en hul gedeelte van die skenkings daar afhaal.

Die instansies sorg gesamentlik vir ongeveer 700 gesinne met ongeveer 3 500 individue in Afrikaanse gemeenskappe. Die aartappels sal verder verdeel word onder plaaslike voedselbanke en gemeenskapsinisiatiewe om direk impak te maak op diegene wat dit die nodigste het.

“Hierdie skenking is spesifiek gemotiveer deur die ernstige behoefte aan voedselhulp wat baie gemeenskappe in hierdie tye ervaar. Dit is ‘n gebaar wat wys hoe ‘n gemeenskap kan saamwerk om ‘n verskil te maak waar dit die nodigste is. Strukture en netwerke maak die verskil, en dit kan ‘n mens duidelik sien in hierdie geval. Dit is beslis ‘n betekenisvolle bydrae tot die voedingsbehoeftes van duisende mense en gesinne in ons gemeenskappe,” sê Oosthuizen.

Solidariteit Helpende Hand het alle rolspelers wat die skenking en verspreiding daarvan moontlik gemaak het, bedank.

“Dit is met gesamentlike pogings wat ons ‘n ware impak en verskil kan maak in die lewens van diegene wat dit die nodigste het. Ons is verbind tot ‘n positiewe verandering en sal voortgaan om ons gemeenskappe te ondersteun in hierdie uitdagende tyd.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.