Twee stappers van rotse op Otter-staproete gered

Uitsig tydens die Otter-staproete (Foto: Carina Stander)

Reddingswemmers van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het Vrydag twee stappers wat vasgekeer was op rotse op die Otter-staproete in die Wes-Kaap na veiligheid gebring.

Luidens ʼn verklaring van die NSRI was ʼn groep stappers besig om die Bloukransrivier oor te steek toe twee vroue deur ʼn uitgaande stroom meegesleur is.

“Nie een van die vroue kon swem nie en hulle het hul rugsakke gebruik om kop bo water te hou.”

Die vroue kon egter later in ʼn sloep op rotse klouter, maar is daar vasgekeer toe die gety begin inkom.

Een van die ander stappers het daarna glo teen ʼn krans opgeklim om sein te kry sodat hy reddingspanne omtrent die voorval kon inlig. Veldwagters van die Tsitsikamma Park en NSRI-bemanningslede het dadelik op die oproep gereageer.

“NSRI-Stormsrivier het reddingswemmers ontbied om die vroue in nood by te staan en reddingswerkers van Oesterbaai is ook omtrent die voorval in kennis gestel waarna ʼn reddingstuig gestuur is.

“Die twee vroue kon nie teen die steil krans uitklim nie en kon ook nie as gevolg van die hoogwater die roete deur die water bereik nie.

“Sowat 25 minute nadat die NSRI-reddingswemmers die twee vroue veilig van die rotse af gekry en na veiligheid gebring het, was die rotse waarop die stappers vasgekeer onder water. Die windspoed het ook tydens die reddingsoperasie tot ongeveer 30 knope toegeneem.”

Die NSRI sê die twee stappers was nie beseer nie en het besluit om hul staptog voort te sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.