Twee verkeersbeamptes afgedank, nog drie vas oor ‘korrupsie’

(Argieffoto net vir illustrasiedoeleindes: Twitter/Gauteng Traffic Police)

Twee verkeersbeamptes is afgedank nadat hulle tydens ʼn tugverhoor op aanklagte van korrupsie skuldig bevind is, terwyl nog drie agter tralies is weens beweerde afpersing en korrupsie.

Die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) sê Mfanafuthi Gift Hleza, van die Msukaligwa-munisipaliteit op Ermelo in Mpumalanga, het ʼn beampte van die RTMC se teenkorrupsie-taakspan in Januarie 2020 voorgekeer omdat hy te vinnig gery het. Hleza het R200 geëis sodat die geheime agent nie ʼn boete opgelê word nie.

Later dieselfde dag is die geheime agent weer voorgekeer, dié keer op die R17 deur Thembisile Octavia Yende, ʼn beampte verbonde aan die Ermelo-verkeersdepartement. Yende het omkoopgeld van R50 geëis sodat ʼn boete, vir versuim om die voorste nommerplaat op die voertuig te vertoon, nie aan die geheime agent opgelê word nie.

In albei gevalle het hy die omkoopgeld betaal en is toegelaat om verder te ry.

Ná ʼn uitgerekte dissiplinêre proses is albei beamptes skuldig bevind aan korrupsie en ontslaan.

In ʼn afsonderlike voorval is drie beamptes verbonde aan die Tshwane-metropolisie vroeër vandeesmaand in hegtenis geneem op aanklag van korrupsie.

Die twee mans en ʼn vrou was besig met patrolliediens, toe hulle ʼn motoris in Loislaan in Pretoria voorgekeer het. Terwyl hulle die voertuig geïnspekteer het, het die beamptes glo die bestuurder begin intimideer en aangevoer die voertuig mag nie op die pad wees nie, aangesien dit nie ʼn handelaarstempel het nie.

Hulle het gedreig om die voertuig te skut, indien sy nie dadelik ʼn bedrag van R3 000 vir hulle gee nie.

Die motoris het aangedui dat sy nie die geld het nie en ook nie kan bekostig om die voertuig te verloor nie. Sy is toegelaat om verder te ry. Kort daarna het sy toevallig die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid in Tshwane teëgekom en verduidelik wat pas gebeur het.

Die twee het kontakbesonderhede uitgeruil sodat die saak verder gevoer kon word.

Die motoris het later opgemerk dat ʼn metropolisievoertuig haar na haar huis toe gevolg het. Dieselfde twee beamptes wat haar vantevore voorgekeer het, het uitgeklim en ʼn selfoonnommer verskaf waar sy opnuut aangesê is om R3 000 deur ʼn e-beursie-betaling te doen.

Volgens die RTMC het die vrou die geld oorbetaal en die burgemeesterskomiteelid daaroor ingelig. Dié het die voorval by die metro se standaarde-en-integriteitseenheid aangemeld en die beamptes is vir afpersing en korrupsie in hegtenis geneem.

Die RTMC het opnuut ʼn beroep op motoriste gedoen om enige vermoede van wangedrag, omkopery, bedrog en korrupsie aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Prikkie ·

Die beamptes volg maar net die voorbeeld wat aan hulle gestel word deur die regeringsamptenare.

SjN ·

Belatingvrye pensioen aanvulling , die kaders in hoe poste werk 3 maande met n R10 milj handdruk.

Danie ·

Ag man ons kan dit aanmeld en niks gebeur nie. Orals is dorpe en stede vrot van bakhandjies en dit is hoekom padreels en regulasies nie gehoorsaam word nie.

Perdeby ·

Ek het gehoor hulle beplan om al die Thswane Metrolede die dra van kamaras verpligtend gaan maak.

Anel ·

Dit help nie hulle word net afgedank nie. Hulle moet tronk toe gaan ook!!!

Di ·

Laat ons nou maar eerlik wees, ‘n GROOT persentasie van AL die lede in die Metropolisie, Weermag, Polisie asook Binnelandse sake amptenare is KORRUP. Kriminele word aangestel in poste en ons landsburgers moet die gevolge dra. Ja wel, vergeet om te se dat ons ANC Kaders ook almal ‘n klomp skelms is. Soort soek soort

Nie Verbaas ·

Net twee? Dit gebeur daagliks oral oor Suid Afrika waar hulle geld vir Kentucky soek.

domheks ·

Weereens ‘n bewys van cANCer se ‘our people’ se gulsigheid.

JohanR ·

Waaneer jy weet jy gaan gestop word sit jou video en klank aan op jou selfoon, en los hom op die passasiers sitplek sodat die video wys na bestuurder se venster. Soe vang jy alles op wat gebeur wat as moet later in ‘n hof kan gewys word.

Waarnemer ·

Ek is bevrees die land gaan amper sonder verkeersbeamptes wees as slmal dkirlik omkoop sake gaan rapporteer.99.99% van die land se verkeersbeanptes is skuldig hieraan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.