Tweede verdagte aangekeer oor horingdiefstal

Foto bloot ter illustrasie (Geskep deur KI, Dall-e)

Lindani Mthombeni (32) het Vrydag in die Mahikeng-landdroshof in Noordwes verskyn op aanklag van ʼn sakerooftog.

“Hy word verbind met die vermeende diefstal van 51 renosterhorings uit ʼn kluis van die Noordwes-parkeraad twee weke gelede,” sê lt.kol. Tinyiko Mathebula, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke).

Mthombeni is Woensdag in Brits in hegtenis geneem deur die Valke, die polisie in Rustenburg se eenheid vir openbare orde, taktiese bedryfsbestuur, Tracker Connect en die versekeringsmisdaadburo.

“Die span het inligting opgevolg ná die verdagte in Brits opgemerk is in ʼn Range Rover Evoque. Dié voertuig is vermoedelik in die misdaad gebruik.”

Mthombeni is opgespoor en in hegtenis geneem.

Hy sal op 13 Julie 2023 saam met Elias Manganda, wat verlede week in hegtenis geneem is in verband met die misdaad, in die hof verskyn. Die twee bly in aanhouding tot hul aansoek om borgtog.

Maroela Media het vroeër berig vyf voertuie, wat vermoedelik ook in die pleeg van die misdaad gebruik is – ʼn Range Rover, Land Rover, BMW, Nissan X-Trail en Honda Civic – is reeds geskut vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.