Verkeersbeampte sterf toe minibus haar tref

Argieffoto (Foto: devexcelsure / Pixabay)

ʼn Verkeersbeampte van Limpopo is Vrydag dood toe ʼn Toyota minibus haar getref het terwyl sy aan diens was.

Hlanganani Sonia Moyana (31) was besig om ʼn Toyota-bakkie te ondersoek toe die minibus haar en die bakkie getref het. Die ongeluk het op die R524 buite Saselamani in die Collins Chabane-munisipaliteit (Malamulele) plaasgevind.

Saselemani-polisiestasie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag. Roekelose bestuur is vermoedelik die oorsaak van die ongeluk.

Florence Radzilani, LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid, het gesê Moyana was deel van ʼn groep jongmense wat in Julie 2022 deur die plaaslike munisipaliteit gewerf is as deel van ʼn leerderskapprogram. Hulle het in Julie 2023 die program voltooi en sy het in Augustus 2023 begin werk.

Radzilani het haar meegevoel betuig met Moyana se familie, vriende en kollegas. “Ons glo sy sou inwoners bedien met integriteit en toewyding om mense veilig op die pad te hou. Ons maan elke motoris om die wette op die paaie te gehoorsaam en ons verkeersbeamptes met respek te hanteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.