Vermeende kapers skiet veiligheidswag

Die veiligheidswag is met ‘n helikopter na die naaste hospitaal gehaas (Foto: Verskaf)

’n Veiligheidswag is ernstig beseer toe vermeende vragmotorkapers hom Maandagoggend raakgeskiet het. Dit het gebeur toe hy hulle probeer agternasit het in Direkteurstraat in Kemptonpark, Gauteng.

Die vermeende kapers was na bewering besig om in ’n gekaapte vragmotor weg te kom toe die manlike veiligheidswag hulle probeer agternasit het. Hulle het glo op hom losgebrand en hom raakgeskiet.

Volgens Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, is die veiligheidswag in sy onderlyf geskiet en is op die toneel deur paramedici behandel.

“Weens die aard van sy beserings is hy met ’n helikopter na die naaste hospitaal gehaas vir verdere behandeling,” sê Herbst.

Herbst sê die veiligheidswag kon gelukkig daarin slaag om die meeste koeëls tydens die skietery te ontduik. Die gekaapte vragmotor is verskeie kere raakgeskiet.

Verdere besonderhede kan nog nie bekend gemaak word nie.

Maroela Media het die betrokke polisiebeampte probeer kontak en wag nog op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.