Video en foto’s: Noordelike Bosveld lowergroen ná milde somerreën

Foto: Verskaf

Die Limpoporivier is in vloed en groot dele van die Bosveld agter die Soutpansberg staan in lowergroen getooi ná ʼn wonderlike reënvalmaand en ʼn onlangse wolkbreuk in Botswana.

Die meegaande video van die rivier en foto’s van die veld naby die Pontdrif-grenspos met Botswana sou jy jou so min as drie weke gelede nie kon voorstel nie, sê Zane Langman, bestuurder van die plaas Ratho naby Pontdrif.

Dit was volgens hom stofdroog tot die begin van Desember.

“Tot op 3 Desember was die rivierbedding heeltemal droog, maar ons het in Desember al 130 mm goeie, sagte, deurdringende reën gehad. Aangesien ons gemiddeld tussen 180 mm en 200 mm per jaar kry, is dit uitstekend. Dis dankbare veld hierdie en jy kan self sien wat die uitwerking is.”

Foto: Verskaf

Die stewige vloei van die rivier, wat vir groot dele van die jaar geen water het nie, of ten beste net ʼn klein straaltjie, het van Saterdagoggend af sy walle oorstroom nadat ʼn wolkbreuk in Botswana Vrydagnag daartoe gelei het dat die Motloutserivier, wat in die Limpopo inloop, sterk afgekom het.

Die Limpoporivier het dus oor sy walle gestoot en die rivierbos is oorstroom, maar dis nie so erg soos die oorstromings van 2000 en 2013 nie. Daar was onder meer nie weer soveel ontsnappings uit krokodilplase in die rivier in voordat dit verby die Mapungubwe Nasionale Park vloei nie.

Dit is nie net die Pontdrif-omgewing waar dit so mooi lyk nie. Na wat Maroela Media verneem vloei die Brakrivier in die Blouberg-gebied by Vivo ook sterk en is daar hoop op ʼn goeie reënvalseisoen in hierdie dikwels kurkdroë deel van die Bosveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.