Video gee deurslag in Panayiotou-saak

Christopher Panayiotou en sy medebeskuldigdes in die hof (2 November 2017). Foto: Raahil Sain/ANA

Christopher Panayiotou se selfbehoud het tot gevolg gehad dat hy oproepe na Luthando Siyoni, die middelman in die moord op Jayde Panayiotou, gemaak het.

Dit is volgens regter Dayalin Chetty, wat Panayiotou Donderdag op sy 31ste verjaardag skuldig bevind het aan die moord op sy vrou Jayde in April 2015. Sinethemba Nenembe is skuldig bevind aan moord en roof met verswarende omstandighede. Zolani Sibeko is skuldig bevind aan sameswering tot moord.

Die staat het aangevoer dit was ʼn huurmoord en Chetty het bevind Jayde is op teregstellingswyse vermoor. Chetty het gesê dit is duidelik in die video dat Panayiotou bo redelike twyfel aandadig was aan die moord op sy vrou.

Sinethemba Nenembe in die hof. Foto: Raahil Sain/ANA

Die video is tydens ʼn geheime polisieoperasie opgeneem.  Volgens Chetty is dit die gesprek tussen Panayiotou en Siyoni in dié video wat vir hom bo redelike twyfel bewys het dat Panayiotou aandadig was aan die moord. Die twee het op 29 April 2015 by ’n vulstasie in Algoapark ontmoet, net agt dae na die moord op Jayde.

Chetty het gesê die kompleksiteit van ’n moorddadige sameswering is deur Panayiotou blootgelê tydens die gesprek in die voertuig.

“Iemand het iets gesê. Ja, want dit is nou ’n moordsaak, dis nie soos ’n rooftog of iets nie. Dit het ’n ontvoering en ’n moord geword in plaas van net ’n roof buite die huis,” het Panayiotou tydens die gesprek gesê.

Chetty het gesê Panayiotou se erkenning in die voertuig het die geloofwaardigheid van die narratief in beide Babalwa Breakfast en Siyoni se polisieverklarings bevestig.

Zolani Sibeko in die hof. Foto: Raahil Sain/ANA

Chetty het ook verder klem gelê op nog een van Panayiotou se uitlatings in die video. “Ek het vir jou gesê hulle moet dit buite die huis doen en die sakke en die ringe vat en hulle het nie die horlosie of enigiets gevat nie.”

Jayde se liggaam is in ’n veld gevind en haar horlosie was steeds aan haar linkerarm en ’n armband aan haar regterarm. Chetty het gesê die teenwoordigheid van hierdie items het Panayiotou ongetwyfeld ontsenu.

Die regter het bevind dat Panayiotou se saak in totaliteit gebaseer was op die verdediging se aanspraak dat Siyoni gemartel is om ’n bekentenis te maak. Die hof het egter bevind dat Siyoni nie deur die polisie aangerand is nie en dat hy ’n volslae leuenaar is.

Adv. Marius Stander. Foto: Raahil Sain/ANA

Rakende Nenembe en Sibeko het Chetty na die omstandigheidsgetuienis van selfoonrekords en data-analise gekyk.

Die hof het bevind Nenembe was in die voertuig saam met die moordenaar Sizwe Vumazonke. Die hof het ook bevind Sibeko was in die motor saam met Vumazonke die dag voor Jayde vermoor is en dat hy talle kere met Vumazonke in kontak was.

Chetty het gesê die feit dat dit nie kan bewys word dat Sibeko tydens die moord teenwoordig was nie, is irrelevant. Hy het bevind dat Sibeko deel van ʼn samesweringsooreenkoms was.

Voorvonnisverrigtinge begin op 17 November. Panayiotou se regsverteenwoordiger het reeds aangedui dat hy wil appelleer teen sy kliënt se skuldigbevinding.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mariaan ·

Kry vir jou boetie…geregtigheid het geskied…ek hoop jou gewete vreet aan jou tot jy die dag asem uitblaas

Annie ·

Slim vang sy baas!!! Ek is sooooo bly hulle het nie daarmee weggekom nie. Geen vonnis kan vir Jayde terugbring nie, maar dis ‘n troos om te weet geregtigheid geskied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.