Vier vas kort ná plaasaanval by Alicedale

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Drie mans en ʼn vrou is aangekeer kort nadat hulle Vrydag op ʼn plaas naby Alicedale in die Oos-Kaap twee werkers aangerand en sewe stuks vee in ʼn Toyota Quantum-minibus voorgekeer het voor hulle op die vlug geslaan het.

Die boewe het omstreeks 05:45 op die plaas toegeslaan, sê kapt. Marius McCarthy, polisiewoordvoerder. Hulle het met die bussie stilgehou, die twee werkers met vuurwapens aangehou en hulle aangerand.

Hulle het ook sewe skape in die minibus gelaai voor hulle gevlug het.

“Die plaaseienaar, wat nie op die perseel was nie, is dadelik in kennis gestel en hy het ʼn private veiligheidsmaatskappy en die polisie ontbied,” sê McCarthy.

Polisiebeamptes is ook gewaarsku om op die uitkyk vir die wegkombussie te wees.

“Op pad na die plaas het die plaaseienaar die bussie opgemerk en dit gevolg terwyl hy die polisie op hoogte gehou het. Oomblikke later het die polisie die Toyota Quantum op die N10 naby Patensie voorgekeer.”

Die vier verdagtes is in hegtenis geneem op aanklagte van huisroof en die besit van ongelisensieerde vuurwapens. Hulle sal later in die hof verskyn.

Die sewe gesteelde skape was ook in die bussie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.