Voormalige Absa-werknemers gevonnis oor bedrog

Foto: Absa Groep

Voormalige werknemers van Absa is in die Mokopane-streekhof lang vonnisse opgelê op aanklag van bedrog.

Ao. Lethunya Mmuroa, woordvoerder van die direktoraat van prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê die drie persone het onderskeidelik by Absa-bank in Naboomspruit en Lephalale in Limpopo en Sandton in Gauteng gewerk.

Dimakatso Prudence Ramokgole (34), Seatile Pauline Senoamadi (44) en Motsiri Peter Ramahlarerwa (58) het tydens 2019 sonder magtiging toegang bekom tot die portefeuljes van die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) en die Samanco-stigting en ʼn bedrag van R2,9 miljoen na hul eie rekeninge oorgeplaas.

“Daar is verder bevind dat die beskuldigdes die bankbesonderhede van die portefeuljes van die JSE gewysig het en hul eie bankbesonderhede ingevul het. Hulle het voortgegaan en nog meer geld uit die trustees se rekening oorgeplaas,” sê Mmuroa.

As ʼn gevolg het die JSE-trustee en Samanco-stigting tussen Julie en September 2019 verliese van R191 108 910,46 gely.

“Die saak is by die Valke aangemeld vir forensiese ondersoek. Die beskuldigdes is opgespoor en is op 1 Oktober 2019 by verskillende plekke in Limpopo en Gauteng in hegtenis geneem.”

Die drie beskuldigdes het in die hof verskyn en is vrygelaat op borgtog van R50 000 elk.

“Die ondersoek en saak in die hof het gevorder tot hulle op 11 April 2023 skuldig bevind en gevonnis is.”

Ramakgole is op aanklag van bedrog 15 jaar tronkstraf opgelê.

Senoamadi is op die eerste en tweede aanklag van bedrog 15 jaar tronkstraf elk opgelê. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Ramahlarerwa is ook op die eerste en tweede aanklag van bedrog 15 jaar tronkstraf elk opgelê. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.