Voortvlugtige ná vier jaar weer aangekeer

Ralina Julio Cau (Foto verskaf deur die Valke)

Ralina Julio Cau (43) bly in aanhouding ná sy by die Komatipoort Lebombo-grenspos in hegtenis geneem is toe sy die grens van Suid-Afrika na Mosambiek wou oorsteek. Sy het in die Kriel-landdroshof in Mpumalanga verskyn.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê Cau was een van drie beskuldigdes wat op 15 Maart 2018 in Kriel in hegtenis geneem is. “Hulle was besig om vervalste goedere (skoene) van Mosambiek na Johannesburg te vervoer. Die drie het in die hof verskyn en was tot 10 April 2018 in aanhouding tot hulle vrygelaat is op borgtog van R3 000 elk.”

Ná hul vrylating het die drie persone ʼn paar keer in die hof verskyn, maar daarna nie weer in die hof verskyn nie. “ʼn Lasbrief vir inhegtenisneming is op 8 Oktober 2018 uitgereik en al drie beskuldigdes is op die stelsel aangeteken as gesoekte verdagtes.”

Cau wou op 30 Junie 2022 die grens van Suid-Afrika na Mosambiek oorsteek, maar die stelsel het haar uitgewys as ʼn gesoekte verdagte in die saak.

“Reëlings is getref sodat sy in die Kriel-landdroshof kan verskyn en die saak is tot 11 Julie 2022 uitgestel.”

Genl.maj. Zodwa Mokoena, provinsiale hoof van die Valke, het die waaksaamheid van die personeel geloof wat haar onderskep het. Sy het haar waardering uitgespreek vir die samewerking tussen die ondersoekbeamptes en werkers van die grenspos. Sy het die twee oorblywende voortvlugtiges gemaan om hulself aan die polisie oor te gee. “Daar is nie enige wegkruipplek vir misdadigers nie,” het sy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.