Vyf agter tralies ná polisie rooftog fnuik

hof, selle, misdaad, polisie

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media).

Vyf vermeende transitorowers is sedert Woensdag agter tralies nadat hul planne om ʼn transitorooftog by die Sandridge Square-winkelsentrum in Midrand te pleeg skeefgeloop het.

Volgens kapt. Lloyd Ramovha, Valke-woordvoerder, het ʼn span verbonde aan die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad en verskeie polisie-eenhede die verdagtes ingewag nadat hulle intelligensie-gedrewe inligting opgevolg het. Die span is versterk deur private vennote Tracker Connect, CAP en Fidelity-sekuriteit.

“Die span het dadelik die verdagtes wat met ʼn Nissan-bakkie met vervalsde nommerplate gery het opgemerk en voorgekeer. Die verdagtes het hulself oorgegee toe hulle opmerk dat hulle deur die span omsingel is.”

Ramovha sê die verdagtes en die voertuig is deursoek waarna twee gelaaide ongelisensieerde vuurwapens, verskeie selfone en nommerplate gevind is.

“Ná voorlopige ondersoeke is ʼn Mazda 2-voertuig opgespoor wat in die omgewing geparkeer was en deur een van die verdagtes gebruik is.

“ʼn Daaropvolgende ondersoek het die voertuie waarop beslag gelê is met nog ʼn rooftog verbind wat op 20 April in Midrand gepleeg is en waarin G4S-bemanning van ʼn onbekende bedrag kontant beroof is. Een van die verdagtes is ʼn G4S-werknemer,” sê Ramovha.

Die vyf mans, Solomon Tebele Letsoalo, Brian Marks Mabuso, Mike Moyo, Nkululeko Ndlovu en Mgcini Ndlovu – drie van hulle Zimbabwiërs en twee Suid-Afrikaners – het Vrydag in die Alexandra-landdroshof verskyn. Die saak is tot Donderdag vir verdere ondersoek uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.