Wag in gesig geskiet tydens roof

Argieffoto (Foto: Hansie Linde)

ʼn Sekerheidswag is erg beseer nadat hy deur vyf gewapende mans by ʼn vulstasie in Bosbokrand in Mpumalanga oorval is. Hy was besig om kontant vanaf die vulstasie se winkel te verwyder.

Volgens die polisie in Mpumalanga het die wag die winkel Vrydag omtrent 14:00 alleen binnegegaan, terwyl sy kollega vir hom in die geldwa gewag het.

“Vyf verdagtes het by die vulstasie opgedaag en een van hulle het die wag in die winkel gevolg en gemaak of hy ʼn kliënt is. Net toe hy die winkel met die geldkis wou verlaat, het die verdagte hom aan die regterkant van sy gesig, langs sy oog, geskiet,” het brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder van Mpumalanga, gesê.

Die verdagte het toe die geld gegryp en saam met sy makkers met die pad af, in die rigting van Shatale verdwyn. Die sekerheidswag is onmiddellik na ʼn hospitaal geneem.

Die polisie het ʼn soektog na die verdagtes van stapel gestuur. Die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, het die aanval op ʼn sekerheidswag verdoem en gesê sy hoop die verdagtes word tot verantwoording geroep.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.