Water in emmers ‘die norm’ in Heidelberg

(Argieffoto: Unsplash)

Midde hoë temperature die afgelope week moes sommige Gautengers sonder lopende water klaarkom weens Rand Water se pompkapasiteit wat nie water aan al sy reservoirs in Gauteng kan voorsien nie.

Inwoners van Heidelberg is veral raadop omdat hulle geen kommunikasie van die Lesedi- plaaslike munisipaliteit oor die waterkrisis kry nie. Daar is dele van dié dorp wat al vir omtrent 14 dae sonder ʼn druppel water sit.

Dele van die middedorp van Heidelberg, Bergsig, Overkruin, Jordaanpark, Ratanda en Rensburg word onder meer geraak.

“Ons sit sonder water en kry geen antwoorde van die munisipaliteit se kant af hieroor nie,” sê Nicolene Neveling, ʼn inwoner van Jordaanpark in Heidelberg.

Volgens Neveling het die munisipaliteit Woensdagmiddag vir die eerste keer watertenks uitgestuur en moes inwoners aanvanklik “self sien kom klaar”.

“Diegene met boorgate en boere in die omgewing het water aangery vir inwoners wat glad nie toegang tot water het nie.”

Luidens ʼn brief wat Rand Water Vrydag aan verskeie munisipaliteite gerig het en wat Maroela Media onder oë gehad het, is Rand Water se waterstelsel geraak ná ʼn kragonderbreking op 8 Maart by die Zuikerbosch-watersuiweringsaanleg. Dit het veroorsaak dat die stelsel nie genoeg pompkapasiteit het om al die reservoirs vol te maak nie.

Die probleem is teen Donderdag nog nie herstel nie, en volgens Mari Boshoff, VF Plus-raadslid van die Lesedi- plaaslike munisipaliteit, kan die probleem moontlik nog maande lank voortduur.

Sewe munisipaliteite word deur dié probleem geraak, met dorpe en gebiede wat óf lae waterdruk óf geen water het nie. Dit sluit die volgende munisipaliteite in: die Stad Johannesburg, Ekurhuleni, die Stad Tshwane, Govan Mbeki, Victor Khanye, Thembisile Hani en Lesedi.

“Rand Water het opgemerk dat die waterverbruik onder inwoners ook toegeneem het as gevolg van die hitte en dit het bygedra dat die vraag na water hoër is as die aanbod,” lui die brief.

Boshoff sê die Lesedi-munisipaliteit probeer van sy kant af om heeltyd met Rand Water op te volg oor die probleem.

Inwoners sukkel

Volgens Neveling het dit deel van dorpenaars se daaglikse roetine geword om emmers vol water rond te dra om alledaagse take te verrig.

“Ons lewe uit emmers uit. Ons moet water aandra om toilette te spoel en die kinders in skottels te bad. Ons kan nie skottelgoed of wasgoed was nie. Ons gaan na vriende in ander dorpe om dit te doen,” vertel Neveling.

“Soms kan ons nie eers water kook om te bad nie as gevolg van beurtkrag. Dan is ʼn koue bad ons voorland.”

Water verkoop ook vinnig in die winkels uit en soms kom inwoners voor leë rakke te staan.

“Mense deel maar water onder mekaar uit.”

Neveling sê haar kinders dra nie meer elke dag skoolklere skool toe nie omdat dit nie gewas kan word nie. Hulle moet ook met ʼn emmer vol water badkamer toe gaan.

Maroela Media het navrae aan die munisipaliteit gestuur. Die terugvoer sal hier bygewerk word sodra dit ontvang word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.