Waterwese besorg oor laer reënval

Gariepdam op die grens tussen die Vrystaat en die Oos-Kaap (2005) (Foto: Nic Roets by wikitravel.org)

Gariepdam op die grens tussen die Vrystaat en die Oos-Kaap (2005) (Foto: Nic Roets by wikitravel.org)

Die departement van waterwese en sanitasie het Donderdag gesê die huidige reën het ʼn “effense impak” op die damme se vlakke, maar nog reën word verwelkom om die effek van die droogte te keer.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, het gesê die huidige reën het die damvlakke met 0,2% laat styg, en die vlakke van die dam het verlede week van 53,5% tot Woensdag na 53,7% gestyg.

Die vlakke raak egter nog nie aan verlede jaar se 79,5% in dieselfde maand nie, het Ratau bygevoeg.

Volgens hom het al die provinsies, buiten die Wes-Kaap en die Vrystaat, ʼn “effense toename” in die gemiddelde damvlakke die afgelope week getoon.

Die Katsedam in Lesotho het met 1,9% gestyg tot 65,7% en in die Vrystaat het die Sterkfonteindam van 81,1% na 88,3% gestyg. Die Gariepdam in die Vrystaat het egter van 53,3% na 52,6% gedaal, “hoofsaaklik weens Eskom wat krag opwek by die dam”.

Hazelmere in KwaZulu-Natal het van 33,2% na 34,3% gestyg, maar in die Wes-Kaap het die Voëlvleidam van 22,2% na 20,8% gedaal.

Ratau het gesê ʼn waterbeperking van 15% word aanbeveel in KwaZulu-Natal vir die Umgeni-stelsel.

Hy het gesê damme in Noordwes het van 46,4% tot 51,1% gestyg, maar die vlakke van damme in die Wes-Kaap, wat steeds op 36,6% staan, bly ʼn bekommernis. Hy het gesê dit is belangrik om in gedagte te hou dat dit damme in ʼn winterreënvalstreek is wat laag is.

Hy het gesê die voorspelling vir die volgende twee tot drie maande, volgens die departement se weervoorspellers, is ongunstig, aangesien daar steeds ʼn laer as gemiddelde reënval tot in Mei verwag word, met bogemiddelde temperature vir die res van die somer tot in die winter.

Volgens die weervoorspellers wil dit voorkom of El Niño besig is om te verswak, en die weerpatroon, wat die droogtetoestande veroorsaak, sal na verwagting in die winter begin neutraliseer.

Ratau het gesê die drie provinsies, Noordwes, Vrystaat en KwaZulu-Natal, kan weer “redelik goeie reënval” verwag, met verskeie “geïsoleerde swaarreënbuie en donderstorms”.

Hy het gesê waarskuwings dat die reën die volgende drie maande steeds laer as gemiddeld kan wees, beteken dat die herstelproses langer as drie jaar kan duur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Wat-ek-lees ·

Daar word nie melding gemaak van die Vaaldam wat se bakmaat huidig op minder as 50% staan. Verontrustend is dat die invloei van munisipale riool nog steeds dieselfde bly en dus nie ‘n afname toon met die daling van die watervlak. Inteendeel is die riool nou meer in die water wat gesuiwer moet word vir drinkwater en gevolglik dus ook meer gaan kos om dit te doen. Daar is ‘n tekort van miljoene Rand om net die instandhouding van rioolaanlegte op datum te bring wat nie eens die opgradering insluit om tred te hou met die aanwas van die bevolking langs die oewers van die Vaalrivier. Daar is gereeld ‘n pertinente groen kleur in die water wat lyk asof daar groen verf uitgegooi is in die dam, onmiskenbaar blou-groen alge wat uiterste rioolbesoedeling aandui. Ook word uitbreidings van informele behuising deur die betrokke staatsdepartement voortgesit sonder oorlegpleging/beplanning met plaaslike owerhede en waterwese wat die toestand net vererger. Sedert toeka se tyd kan (en wil) die een departement nie die ander hof toe sleep oor dinge soos o.a. besoedeling. Hier is dus ‘n skaakmat situasie wat vir jare reeds bestaan en tien teen een nog vir jare sal voortduur. Tog kan die toestand verander indien die publiek toetree tot die stryd en besoedeling aanmeld en foto’s ter stawing van die probleem neem. Dis wat tans hier by ons gebeur en ons is besig om goeie samewerking te kry van die kant van waterwese.

Wat-ek-lees ·

Daar was in die sestiger jare van die vorige eeu ‘n waterjaar met die slagspreuk: “WATER, WERK MOOI DAARMEE WANT ONS LEEF DAARVAN”. Dit het en sal nooit verander. Niemand kan water maak en dus is daar net ‘n sekere hoeveelheid op ons aardbol. Aan die oewer van die Vaaldam staan die gras welig waar daar ‘n klompie maande gelede nog water was. Net ‘n wonderwerk kan die dam vul tot die vlak van vorige jare hierdie tyd.
Wees dus gewaarsku dat dinge nie eintlik rooskleurig lyk met ons drinkwater.
Laastens is daar natuurlik die waterlekke op munisipale waterpype waar daar skynbaar nie ‘n flenter voor omgegee word deur die betrokke instansies. Dis ook hier waar die verbruiker nie moet agteroor sit en dit selfs onder die aandag van koerante moet bring. Die pen bly nog steeds magtiger as die swaard.

Gjorg ·

Huh….as dit nie reën nie help meer damme nie eintlik nie hoor?

Staatsamptenaar ·

Die regering maak mos besluite, soos dat daar nie meer damme gebou moet word nie. Hulle kan nie eens die wat gebou is instandhou nie….wat nog te sê nuwes wat gebou moet word? As daar nuwes gebou word, is daar soveel moets en moenies, bv gebruik BEE firmas…ens ens…! intussen raak die water minder, die mense mors meer ….maar ag wat…wie worry daaoor. Die Zuptas sal seker voorsien!!

Ken McArthur ·

Die natuur het ‘n wonderlike manier om homself the balanseer. As mense begin om “solids” in te neem uit die Vaaldam sal dit die druk op verhoogte voedsel pryse as gevolg van die droogte tot ‘n mate teewerk.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.