Wie stem vir watter party en waarom dit belangrik is

Barack Obama vs. Mitt Romney 2012-verkiesing. Kaart vanaf die webwerf: http://blogs.spectator.co.uk/jonathan-jones/2012/10/the-challenges-for-obama-and-romney-in-the-final-3-weeks-of-campaigning/

Demografie speel toenemend ‘n belangrike rol in die Amerikaanse politiek. Die demografiese kloof tussen die Republikeine en Demokrate raak ook toenemend belangrik soos wat die partye elk in hul eie ideologiese rigting trek. Waar daar nog ‘n paar jaar gelede talle konserwatiewe Demokrate en liberale Republikeine in die regering gedien het, is elke party se verteenwoordigers vandag meer as ooit vantevore sterk ideologies gedefinieer.

Dit is egter nie net ideologie wat die twee partye toenemend onderskei nie, maar ook die groot demografiese verdeling, veral wat ras, ouderdom en inkomsteprofiel aanbetref. So onlangs soos 1956 het 39% van swart kiesers nog vir die Republikeinse Party gestem. In 2008 kon John McCain slegs 4% van swart kiesers se stemme op hom verenig. In 1976 kon Jimmy Carter, ‘n liberale Demokraat ‘n meerderheid van wit kiesers se stemme op hom verenig. In 2008 verloor John McCain die verkiesing ver teen Barack Obama ten spyte daarvan dat hy selfs beter as Carter onder wit kiesers doen. Alle verwagtinge is dat Mitt Romney op 6 November meer as 60% van die wit stem op hom gaan verenig, iets wat egter geen waarborg is dat hy die verkiesing gaan wen nie.

Behalwe vir die demografiese verandering in die bevolkingsamestelling van die VSA was daar dus ook die afgelope paar verkiesings ‘n toenemende demografiese polarisering. Gevolglik is die Demokrate toenemend afhanklik van die stemme van kiesers uit minderheidsgroepe, arm mense, ongelowiges, enkellopende vroue en jongmense, terwyl die Republikeine afhanklik is van groot steun onder wit Amerikaners, ryker mense, Christene en ouer kiesers. Verkiesings gaan nie meer daaroor om tot so ‘n wye verskeidenheid as moontlik kiesers te spreek nie, maar eerder om soveel as moontlik van die demografie wat jou steun by die stembus te kry.

In 2004 is George Bush herkies omdat die Republikeine met ‘n sterk veldtog teen gay-huwelike en ander sosiale kwessies soos aborsies daarin kon slaag om die stempersentasie van ouer wit kiesers en diep gelowiges skerp te verhoog. In 2008 het konserwatiewe wit kiesers in ‘n baie laer persentasie gestem (baie het eenvoudig by die huis gebly), terwyl Obama meesterlik daarin geslaag het om die rekords onder jongmense en veral swart Amerikaners en Amerikaners van Latyns-Amerikaanse afkoms te breek. Geen wonder dus dat hy die verkiesing ver gewen het nie. Dit gaan dus nie meer vir die Demokrate oor watter persentasie swart kiesers vir hulle stem nie, maar eerder oor hoeveel swart kiesers gemotiveer kan word om wel te gaan stem. Vir Romney hang sy kanse op ‘n oorwinning veel meer af van sy kanse om ‘n hoë persentasie ouer witkiesers by die stembus te kry as om die haas onmoontlike te vermag deur meer swart stemme te werf.

Die demografie van die VSA verander toenemend in die guns van die Demokrate soos wat die persentasie wat minderheidsgroepe van die totale bevolking uitgaan, bly styg. Hoewel vanjaar se verkiesingsuitslag dus grootliks bepaal gaan word deur watter party die meeste van sy eie demografiese steunbasis by die stembus gaan kry, sal die demografiese skeiding tussen die twee partye in die toekoms moet verander. Geen wonder dus dat die Republikeine op grondvlak reeds groot moeite doen om kandidate van byvoorbeeld Latyns-Amerikaanse afkoms verkies te kry nie. Terwyl demografiese polarisering oor die korttermyn tot verkiesingsoorwinnings aanleiding gee, is dit nie volhoubaar nie.

Klik hier om Jaco Kleynhans se vorige artikel te lees.

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging.

Deel van: SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae