Sharks op pad eindstryd toe!

Makazole Mapimpi op pad doellyn toe. (Foto: X/Sharks)

Die Sharks het gewys dat Suid-Afrikaanse rugbyspanne die meesters van eenpuntoorwinnings is toe hulle vir Clermont met 32 – 31 in die halfeindstryd van die Europese Uitdaagbeker op die Twickenham Stoop geklop het.

Lukhanyo Am en kie moes boonop nog opvangrugby speel nadat die Fransmanne ʼn rustydvoorsprong van 28 – 18 geniet het.

Maar, soos wat Sharks-legende Stefan Terblanche in die aanloop tot die kragmeting gesê het: Soms het jy net ʼn klein kans en baie geloof in jou medespelers nodig om wedstryde te wen.

En die KwaZulu-Natallers het ná rustyd ʼn reusekaraktertoets geslaag.

Waar ʼn uitstekende Siya Masuku se skopvoet die telbord aan die rol in die eerste helfte gehou het, het die Sharks se sterre in die laaste 40 minute van die halfeindstryd begin saamgesels.

Eben Etzebeth het ʼn paar keer die bal meesterlik uit die lug gepluk, Makazole Mampimpi het weer sy stralerskoene aangehad en Aphelele Fassi was ʼn doring op die aanval.

Tussendeur was Masuku die bestendigheid self en hy het weer eens die punt onderstreep dat ʼn betroubare stelskopper sy gewig in goud werd is.

Ja, daar was natuurlik ʼn paar haakplekke: Die Sharks het in die lynstane gesukkel, terwyl die Springbok-voorry van Ox Nché, Bongi Mbonambi en Vincent Koch by tye die wind van voor gekry het.

Hulle is nietemin ongetwyfeld besig om ʼn bietjie meer aansien aan hul seisoen te gee.

Clermont is nie sommer sulke hierjy teenstanders nie en die Sharks verdien volpunte vir hul terugvegpoging in die tweede helfte.

  • Puntemakers:

Sharks: Drieë: Vincent Koch en Makazole Mapimpi. Doelskoppe: Siya Masuku (2). Strafskoppe: Masuku (6).

Clermont: Drieë: Joris Jurand (2) en Alex Newsome. Doelskoppe: Anthony Belleau (2). Strafskoppe: Belleau (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Europese Uitdaagbeker! Die beker vir verloordes.

Theuns ·

Sonder YSTERBED ETSEBETH IS SHARKS useless!..
Well done Eben! Kry die ander bokkies ook om te begin saam.speel!
Beste koop ooit vir Sharks!
Hou so aan Eben! Trots op jou!

Kuver ·

En die ref glimlag breed met sy vet beursie na die wedstryd, sharks het nie verdien om te wen nie punt!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.