ʼn 22-jarige man is dood nadat hy laat Donderdagaand in ʼn ongeluk in Mnandi, Pretoria, betrokke was.
Luyanda Majija, ʼn woordvoerder van ER24, het gesê die man was ʼn passasier in ʼn voertuig wat omstreeks 23:45 teen ʼn stilstaande vragmotor in Boundaryweg vasgery het.
Die bestuurder, ook ʼn 22-jarige man, het geringe beserings opgedoen.
“Na wat verneem word, het die voertuig teen ʼn afdraande gery en teen die vragmotor gebots. Die vragmotor was in ʼn erf se oprit geparkeer en ʼn gedeelte van sy agterkant het die pad versper. Die pad was ook swak belig,” het Majija gesê.
Die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag.