SANparke sê twee vermeende stropers is doodgeskiet en een gewond na ʼn skietgeveg met lede van die weermag in die Kruger Nasionale Park.
ʼn Woordvoerder, Reynold Thakhuli, sê die vermeende stropers is Donderdagmiddag naby Houtbos, in die suide van die park, deur lede van die weermag gekonfronteer waarna ʼn skietgeveg uitgebreek het. Die gewonde man is onder polisiewag in die hospitaal en sal binnekort ontslaan raak. ʼn Soldaat is ook lig beseer tydens die voorval. Thakhuli sê daar is beslag gelê op ʼn AK-47 en ʼn jaggeweer. Hy sê hulle probeer steeds vasstel of die vermeende stropers enige diere doodgemaak het hoewel daar nog geen karkasse in die onmiddellike area gevind is nie.