‘n Man van Limpopo is Donderdag lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy twee vroue vermoor het wat saam met hom aan ‘n ontmoetingsprogram op die radio deelgeneem het.
“Kabelo Rodney Maake het lewenslange tronkstraf vir elk van die moorde ontvang, en ‘n derde lewenslange vonnis vir die moord op ‘n derde vrou,” het kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie in Limpopo, gesê. Hy het ook 15 jaar tronkstraf vir elk van die drie aanklagte van ontvoering ontvang en 15 jaar tronkstraf vir elk van die drie aanklagte van gewapende roof. Maake het in die hooggeregshofsitting in Polokwane skuldig gepleit op die aanklagte.
Hy het tydens ‘n ontmoetingsprogram op Capricorn FM tussen Junie en November 2010, gereël om Catherine Morema naby Tzaneen te ontmoet. “Hy het haar na ‘n verlate bebosde gebied geneem en haar handsak, met kontant in, ‘n bankkaart en ‘n selfoon gesteel voordat hy haar verwurg en aan ‘n boom vasgemaak het.”
Hy het ook gereël om Mahlako Millicent Rachuene in dieselfde gebied te ontmoet, en haar na ‘n afgesonderde gebied geneem en geld geëis. Aangesien Rachuene nie geld gehad het nie, het hy haar gedwing om haar familie te kontak en ‘n losprys te eis. “Die vrou is verwurg nadat haar hande agter haar rug vasgebind is. Die verdagte het ook haar handsak met ‘n bankkaart en selfoon gesteel en toe R1 000 uit haar bankrekening onttrek,” het Otto bygevoeg.
Maake het ook Mabotse Sina Rasebotsa by Silubane oorval en haar beroof. Hy het haar hande agter haar rug vasgebind, haar verwurg en haar handsak gesteel.
“Die verdagte is ‘n paar maande na die moorde in hegtenis geneem, nadat ‘n wenk van die publiek opgevolg is. Ná sy inhegtenisneming het hy die polisie na die drie plekke geneem waar hy die misdade gepleeg het, en waar die ontbinde lyke van die vroue opgespoor is.”